Man gevonnis wat grens met bykans R1,8 m wou oorsteek

Nicolas Fouché,(Foto: Verskaf)

Die 25-jarige Nicholas Fouché wat verlede jaar by die Stockpoort-grenspos in hegtenis geneem is nadat hy met sowat R1,75 miljoen die grens na Botswana wou oorsteek, is Dinsdag tot vyf jaar tronkstraf gevonnis.

Fouché is op ’n aanklag van geldwassery tot vier jaar gevangenisstraf gevonnis wat vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat hy nie tydens dié tydperk aan dieselfde oortreding skuldig bevind word nie. Hy is op ʼn aanklag van die oortreding van die regulasies vir valutabeheer tot vyf jaar direkte gevangenisstraf gevonnis. Die twee vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Fouché was op 7 Augustus verlede jaar van Gauteng na Botswana op pad toe owerhede by die Stockpoort-grenspos, digby Lephalale, hom voorgekeer het.

“Hulle het hom gevra of hy iets aan die doeane-amptenare wil verklaar voordat hy die grens na Botswana gaan oorsteek, en sy antwoord was dat daar niks was om te verklaar nie,” aldus Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Limpopo.

Die owerhede het daarna sy huurmotor deursoek en toe op die sak vol banknote in die kattebak afgekom. Hy is summier in hegtenis geneem.

Malabi-Dzhangi sê Fouché het skuld op geldwassery en die oortreding van die regulasies vir valutabeheer, beken, waarna die hof hom skuldig bevind het.

“Die aanklaer, adv. Sammy Mogoshi, het gesê die oortredings is goed georkestreer deurdat Fouché met ʼn huurvoertuig van Gauteng gereis het, wat dui op ʼn hoë vlak van beplanning.”

Mogoshi het in die hof gesê dit was duidelik dat die beskuldigde vir ʼn goed georganiseerde sindikaat gewerk het.

Fouché het ʼn paar keer in die hof verskyn en is vroeër op borgtog van R150 000 vrygelaat voordat hy skuldig bevind is. Die R1,75 miljoen is aan die staat verbeur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Roggeveld

Meer geld vir die kaders…

Persheks

Net 5 jaar? Nee goed jy’s skuldig bevind vir R1,75 miljoen en borg vir R150 000. Maak nie sin nie… Regstelsel is nie lekker in die land nie of ek’s regtig blond!

Niklaas

Ek sal graag oor 2 maande wil navraag doen oor die sak note en wat daarvan geword het. Sal sooo interessant wees om te hoor

Jacobus

Waar is die ywer wat nodig was met swartsakke vol geld, wat landuit gesmokkel is deur kaders en vriende van ANC. Wie flous hulle.?