Man gevonnis wat ma, kleuter met hamer doodslaan

Argieffoto

ʼn 30-jarige man wat ʼn jong ma en haar vyfjarige dogter van Tongaat in KwaZulu-Natal verlede jaar met ʼn hamer doodgeslaan het, is Donderdag in die hooggeregshof in Durban vir dié brutale moorde gevonnis.

Bongani Bhamuza Gumede is twee lewenslange vonnisse opgelê vir die moorde op Zinhle Ntuli (23) en haar dogter, Snothile.

Die moorde het aan die lig gekom toe ʼn plaaslike inwoner op 18 Desember verlede jaar bloed op ʼn voetpad in Desainagar opgemerk het. Die inwoner het ook vermoed dat iemand in die nabygeleë bosse ingesleep is.

Nadat hy die spoor in die bosse gevolg het, het hy op ʼn vars graf afgekom. Hy het die polisie ontbied en Ntuli en Snothile se liggame is in die vlak graf gevind. Hulle het oop wonde aan hul koppe gehad en danksy ʼn deeglike ondersoek is later vasgestel dat hulle met ʼn hamer doodgeslaan is.

Brig. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, sê Gumede het van die polisie gevlug, maar is uiteindelik op 31 Desember 2017 in Jozini vasgetrek. Sy aansoek om borgtog is van die hand gewys en hy het in polisieaanhouding gebly regdeur die verhoor en vonnisverrigtinge.

Lt.genl. Nhlanhla Lucky Mkhwanazi, waarnemende provinsiale polisiekommissaris in KwaZulu-Natal, het die vonnis verwelkom en sers. Pinky Mazwayi van die Tongaat-SAPD gelukgewens met sy harde werk om te sorg dat die moordenaar agter tralies beland. “Sy harde werk en toewyding om ʼn sterk saak wat deeglik ondersoek is, saam te stel, het daartoe bygedra dat die beskuldigde skuldig bevind is,” het Mkhwanazi gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Cherokee ·

Erens langs die pad gaan hy vrygelaat word terwyl die jong vrou en haar dogter steeds nie hul aardse lewe kan ervaar nie. Dit is interessant dat mense op hierdie selfde forum om doodstraf geskreeu, pleit, en selfs petisies wou opstel. En toe een van die politieke partye die regering wou oorreed om weer doodstraf in te stel, word die wysie heel verander en dieselfde mense pleit nee daarvoor want “wittes sal dan suffer” vir katostrofiese woorde en alle ander junk. Dit is waarom ons politiek is waar dit is want wit-stemme spring van klip tot klip.

P ·

Het vandag ‘n interessante ding op radio gehoor.. En ek stem nogal saam. Die doodstraf gaan nie die kiminele stop nie. ‘n doeltreffende polisie diens en vervolgingsgesag sal wel. So ons moet ophou skreeu vir die doodstraf. Want as ons dink dit gaan hulle keer maak ons ‘n groot fout. Ons moet ons polisie en staats aanklaers kan vertrou om hierdie kriminele 2 keer te laat dink. Omdat hulle weet hulle gaan gevang en vervolg word. Hierdie is die mense is wat die gereg sy volle gang moet laat gaan. Doeltreffend en voortdurend.

Anton Hugo ·

In vandag se terme, verduidelik vir ons in gewone Afrikaans, wat beteken twee lewenslange vonnisse. Miskien moet die media die reg spraak liewer vermy, en vir ons die feite gee. Hoeveel jaar gaan die ou nou eintlik in ‘n tronk wees?

Realis ·

Lewenslank ~ Solank as wat dit die krimineel vat om ordentlik en ge-rehabiliteerd voor te kom. Dan kom die verpligte parool en as jy alles bymekaar tel is ons gelukkig as hy 10 jaar sit

Dafer ·

@Anton Hugo – Om jou navraag verder te voer: Is dit vir die staat fisies moontlik om hierdie ou hoegenaamd op te sluit? Is daar plek in die gevangenis?

pieter ·

P
ek dink die doodstraf gaan help want hierdie moordenaar kom na 10 jaar uit en gaan moor maar weer, ten minste word dit dan gestop en jy hoef ook nie meer vir hierdie ou te sorg in die tronk nie

Mitzi Kellerman ·

Ons land is diep in die moeilikheid. Moorde is nou so algemeen dat mense begin dink dit is die oplossing vir probleme in plaas van die probleem by die horings te pak. Mag ‘n hoër hand intree en hierdie pragtige land ‘ nplek van vrede en naasteliefde maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.