Man gevonnis wat ma voor haar kinders doodskiet

Bhuti Khuli Khumalo (Foto verskaf deur die Valke)

Bhuti Khuli Khumalo (48) is Donderdag gevonnis in verband met ʼn moord in Desember 2015 waar hy sy meisie se ma voor haar en haar sibbe doodgeskiet het.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), sê Khumalo is in die Nelspruit-streekhof 33 jaar tronkstraf opgelê op aanklag van moord, die onwettige besit van ʼn outomatiese vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie.

“Die vonnisoplegging volg ná ʼn gewelddadige voorval op 16 Desember 2015 by Clau-Clau, Kabokweni. Die beskuldigde het die huis van ʼn vrou, in daardie stadium sy meisie, betree. Hy het haar ma voor haar en haar sibbe doodgeskiet. Die paartjie het ʼn woordewisseling gehad voor die voorval. Khumalo het daarna die toneel verlaat.”

Die saak is na die Valke in Nelspruit se eenheid, wat ernstige georganiseerde misdaad ondersoek, oorgeplaas. “Die beskuldigde is op 16 Februarie 2016 by sy wegkruipplek in Kabokweni opgespoor en hy is in hegtenis geneem. Tydens die inhegtenisneming het hy polisiebeamptes na sy huis in Zwelisha geneem waar hy die vuurwapen aan hulle oorhandig het wat tydens die misdaad gebruik is.”

Die beskuldigde het verskeie kere in die hof verskyn en is vrygelaat op borgtog. “Hy het egter gevlug en die borgtog is teruggekeer. Die polisie het nie gerus totdat hy weer aangekeer kon word nie. Hy is in hegtenis geneem toe hy in 2019 na Mosambiek wou vlug. Hy was sedertdien in aanhouding totdat hy op 12 Mei 2022 skuldig bevind is.”

Khumalo is Donderdag 15 jaar tronkstraf opgelê vir moord, 15 jaar vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen en drie jaar vir die onwettige besit van ammunisie. Die vonnisse vir die moord en vuurwapen sal gelyklopend uitgedien word. Hy is onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.