Man gevonnis wat met plase se elektrisiteitsmeters peuter

Argieffoto: GCIS

Gerhard Ferreira is Vrydag in die Kroonstad-landdroshof gevonnis op aanklag dat hy met elektrisiteitsmeters op plase in die Vrystaat gepeuter het.

Ferreira is tot 12 jaar tronkstraf gevonnis wat vir vyf jaar opgeskort is, op voorwaarde dat hy R900 000 aan Eskom moet terugbetaal vir die verlies aan inkomste wat die maatskappy gely het.

Hy het skuld beken op 14 aanklagte van bedrog en 10 aanklagte van opsetlike saakbeskadiging.

“Die 12 jaar tronkstraf is opgeskort vir vyf jaar op voorwaarde dat hy teen 31 Desember 2020 ʼn bedrag van R921 830.88 aan Eskom terugbetaal,” het Eskom in ʼn verklaring gesê.

Ferreira het glo aangebied om die meters teen koste vir klante te “kalibreer”. Eskom het die Valke genader nadat hulle ʼn wenk ontvang het oor die saak. “Ferreira is uiteindelik op 26 Mei 2017 op heterdaad betrap,” aldus die verklaring.

Eskom-klante wat Ferreira vir sy onwettige dienste betaal het, is altesaam met R229 000 beboet. Die onwettige werk is gedoen op plase in die Bothaville- en Viljoenskroon-streke.

Die kragvoorsiener het klante gewaarsku om nie enige ongemagtigde persone toe te laat om aan elektrisiteitsmeters te peuter nie. “Klante word gemaan om nie enigiemand sonder ʼn amptelike werkspermit toe te laat om enige werk te doen aan ʼn Eskom-installasie nie. Eskom sal ook nooit versoek dat inbetalings gedoen moet word in enige bankrekening buiten die inligting wat op klante se amptelike fakture aangedui word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Snowball ·

Nou moet hulle net die roofgebruikers van elektrisiteit vang, vervolg, tronkstraf gee en hulle dwing om kompensasie vir verlies aan inkomste aan Eskom te betaal. Wie kan ek by Eskom bel met my wenk, dan kan die Valke ook reageer soos met dié individu…

Bul ·

Dis goed en wel. Reg dat hy boet vir sy dade. Maar 50% van Eskom se uitstaande skuld is agv Soweto. Wonder hoeveel roof gebruik en diefstal vind hier plaas? En hoekom het die polisie nog niemand arresteer nie ?? Amper vergeet ek – dis binnekort verkiesing…… en wie gaan nou stemme verloor deur die regte ding te doen….??

Piet Pompies ·

Escom se tegnikuste doen dieselfde… teen ‘n eenmalige betaling kry jy ‘n bykomende stroombreker wat die tarief meter uitskakel… …..

RH ·

En die inwoners van soweto??????? Hoeveel moet daar OOK gevonnis word????

RH ·

En soweto inwoners wat glad nie betaal maar het krag? Wanneer word hulle gevang en gevonnis

Koos de Meyer. ·

Wat het geword van die elektriese diefstal in Mamelodi en daardie plekke

Ellisras ·

Waar kry ek die ou se tel no. My meter moet ook gekalibreer word. Dit is tyd dat ek ook “afslag” kry. As almal wegkom met dit moet ek ook ‘n beurt kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.