Man gewond in tweede aanval op kleinhoewe

Bloedspore na die aanval (Foto: SRU-veiligheidsmaatskappy)

’n Groep mans het Dinsdagaand op ’n kleinhoewe in Schurveberg naby Elandsfontein in Gauteng vir die tweede keer binne die bestek van twee maande toegeslaan.

Die eienaar van die kleinhoewe, wat gevra het dat sy gesin se name nie genoem word nie, sê met albei aanvalle het die gesin fisiek ongedeerd daarvan afgekom, maar die trauma van die voorvalle is blywend. Een van hulle werkers is egter ernstig gewond in die jongste voorval.

“Twee maande gelede het mans op ons kleinhoewe toegeslaan en ons huurder op die erf se lewe bedreig. Hierdie keer het hulle ons werkers oorrompel,” vertel die eienaar.

Die man het gesê hy het omstreeks 22:00 nog wakker gelê, toe hy skielik ’n skoot buite hoor klap het.

“Ek het dadelik my vrou wakker gemaak en gesê sy en die kinders moet wegkruip.

“Toe die tweede skoot klap, het ek my vuurwapen gegryp, na buite gehardloop en waarskuwingskote in die grond begin skiet. Ek het seker tien patrone afgevuur.”

Die eienaar sê sowat vyf skote is in die rigting van die huis geskiet. Daarna het die mans laat spaander.

Volgens die man het ’n groep mans gisteraand die kamers van ’n huis waarin drie van sy werkers woon, binnegegaan.

“Hulle het een van die werkers se kamerdeure oopgeskop en die werker probeer oorrompel. Hy het verbete terugbaklei. Hy het die mans met ’n mes aangeval en een van hulle gesteek. Hulle het op hom losgetrek en drie keer geskiet.”

Die werker is ná die aanval na die Kalafong-hospitaal in Pretoria-Wes geneem, waar hy tans behandeling ontvang. Volgens die eienaar sterk hy goed aan.

“Hulle het een ander werker ook aangerand en geslaan. Die derde werker was ongedeerd.”

Die werkers beweer dat daar vyf mans in die aanval betrokke was.

Volgens die eienaar het die aanvallers ’n goedkoop DVD-speler, wat waarskynlik net ’n paar honderd rand werd is, gesteel.

“Nadat die mans gevlug het, het ek dadelik op ons gemeenskapsgroep hulp ontbied. Ek het die polisie en nooddienste ook ontbied.”

Arthur Crewe, die bedryfsdirekteur van die SRU-veiligheidsmaatskappy, sê sy span is net ná 22:00 na die kleinhoewe ontbied.

“Ons lede het gehelp om na die mans te soek en het die twee beseerde werkers ook medies bygestaan tot die nooddienste daar aangekom het.”

Maroela Media het van die eienaar verneem dat die polisie eers Woensdag om 09:00 ná die jongste voorval by die kleinhoewe opgedaag het.

“Dit is kommerwekkend dat die polisie nie meer dadelik uitkom vir gevalle van poging tot moord waar mense geskiet word nie,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir die Noordstreek.

Die gemeenskap het AfriForum vanoggend gevra om druk op die polisie te plaas om na die misdaadtoneel uit te gaan.

“Dit is sleg om te hoor dat ’n organisasie soos AfriForum eers druk op die polisie moet plaas voordat hulle hul normale werk verrig.”

Die eienaar vertel sy kinders probeer nog van die trauma van die eerste aanval, wat begin Oktober op sy kleinhoewe plaasgevind het, herstel.

“My negejarige dogtertjie kan nie alleen slaap of badkamer toe gaan nie. Sy leef in vrees.

“Ons het ’n voortdurende gevoel van vrees dat hulle weer gaan terugkom. Ons is siek en sat daarvoor om nie veilig in ons eie huis te voel nie.”

Intussen gaan onwettige grondbesetting in hierdie gebied voort.

Die Atteridgeville-polisie is tans op die toneel. Kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, het by navraag gesê hy wag nog vir terugvoer van die betrokke polisiestasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Persheks Adri ·

Sinneloos! Dis pateties verby dat die polisie amper 12 ure vat om by die toneel uit te kom! Ons is sitting ducks orals waar ons gaan dankie ANC cartel

Genis ·

Polisie is so laks, ek bly vier straat blokke van die polisie stasie af. Maandag oggend half twee, was daar elemnte by my, die polisie was in 15 min daar.. Maar het nie n saak oopgemaak nie… Ek moes stasie die volgende ogg… skokend…

Misky ·

Ag nee wat, die polisie is treurig verby. Of dis vir hulle al normaal en skote en poging tot moord is nou maar alledaags. Ons betaal julle en Cele se salaris en verwag n diens daarvoor.

Jessey ·

Solank as wat die 23 jarige kleuterskool onderwyseres wat alleen in haar motor is 10:00 in die aand ‘n prioriteits misdaad, en plaasaanvalle nie is nie, sal ons die goed sien gebeur.

Dit is net totaal en al belaglik en ongelooflik gelykertyd

Josua ·

Al wat die man moes gedoen het is om te sê hy het een van die “persone” raak geskiet dan sal jy sien hoe vinnig daag die polisie by jou huis op, al is dit n valslike bewering is dit in vandag se lewe veral in SA die enigste manier om die polisie se aandag te kry, as jy en jou familie se lewe in gevaar is doen jy alles in jou vermoë om die polisie se aandag te kry al beteken dit jy moet n leun vertel veral met gevalle soos die.

Misky ·

Stem 100% saam jou en ons moet al planne beraam om te lieg net om gehelp te word

Rudolf ·

Korrek. Rapporteer dat jy vermoed een is deur jou raakgeskiet en hulle sal in massa opruk met “The cat in the Hat” vooraan.

HerculesJvV ·

Ek is nie ‘n prokureur nie, maar ek as ‘n leuk sien selfs die fout daarin om vir die polisie te lieg. Myneed, dwarsboming van die gererg….. net om ‘n paar te noem.

Wakkerslaper ·

….en AgriSA dink die weermag (en terroriste staat) gaan enigsens begin omgee…

Niklaas ·

Dit klink nie asof die agbare SAP lede gretig was om daar enige hulp te gaan verleen nie.

Samuel ·

Wat moet mens hiervan sê? Plaas aanvalle, moord, verkragting is niks. Misdadigers kom letterlik weg met moord. Waar gaan die SAPD ná twaalf ure die booswigte opspoor? En dan wil landbou organisasies nog saam met die SAW werk? Pfft

Suzette ·

Ek is net dankbaar dat hierdie mense nog lewe. Ek kan myself nie indink hoe traumaties hierdie gebeure was nie.

Chris ·

Wonder wat sal gebeur as plaas buurtwagte op oortreders afkom en op hul begin skiet? Sal baie interessant wees om te weet wat die regering en SAP daarvan sou sê…..

Lila ·

Dit is werklik kommerwekkend dat niemand meer veilig is nie, ongeag waar hul woon. Dis asof daar net ‘n killing spree posgevat het in Suid Afrika, en elke aanval en moord is meer afskuwelik as die vorige een. Dit raak net erger en meer intens. En Dan sit jy met die SAPS wat so ‘no care’ hounding het… Ons land verval in sy dinges in!

Derek ·

Met ons aanval in Oos Londen het die polisie nie eens hulle fone geantwoord nie. Privaat sekuriteits firma het ons bygestaan. Die polisie het geslaap in die kantoor en iemand moes amper die deur afskop om hulle wakker te kry. Van die saak het niks gekom nie, maar Bheki Cele het baie te se oor die gewone mense en hul beskerming. Hulle word omring met sekuriteits wagte, terwyl die gewone burger bloot gestel word aan misdaad sedert ANC oorname. Voor die tyd het die SAP hul werk gedoen en was gerespekteer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.