Man gewond toe rowers gesin oorrompel

(Argieffoto).

Agt vermeende huisrowers het vroeg Donderdagoggend op ʼn gesin by hul huis in Durban toegesak en tydens die aanval een van die familielede in die bolyf geskiet.

Die gewapende mans het die gesin aangehou terwyl hulle die huis geplunder het.

Kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder, sê die verdagtes het om 06:00 ‘n 58-jarige man in die oprit van sy huis in Templestraat, Kenville, aangeval.

“Twee motors het die man se uitgang versper en agt onbekende mans, van wie vier gewapen, het uit die motor gespring, hom terug in die huis gedwing en sy gesin aangehou,” sê Mbele.

Die verdagtes het die huis geplunder en die man se 28-jarige seun in die bolyf geskiet toe hy die rowers probeer oorrompel het.

Die verdagtes het van die toneel gevlug en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Paramedici het die gewonde man op die toneel gestabiliseer voordat hy na ʼn hospitaal geneem is.

Die pa en die res van die gesin het volgens paramedici grootliks ongedeerd daarvan afgekom.

ʼn Saak van poging tot moord en gewapende roof is by die polisie aanhangig gemaak.

Die polisie is steeds op die toneel en ondersoek die saak verder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

ES ·

Dit ruk nou regtig hand uit! En Hoedman wil ons nogsteeds ontwapen…

Madeleine ·

Ek is so siek om die goed te lees. Jy is nerens veilig nie. Nie eens by jou eie huis nie! Dit raak net erger en erger.

Chris dupreez ·

Aan die orde van die dag in hierdie land wat deur kriminele regeer word .

Harry ·

So hierdie is misdaad. Ongemagtigde betreding van privaat eiendom en poging tot moord……..nie die skiet van honde wat gebruik is om onwettige jag op privaat eiendom nie. Ook nie ‘n poging om jou te beskerm teen ‘n aanvaller wat tot gevolg ‘n skoot uit sy geweer hom doodmaak nie. Iewers is die toepassers van ons land se wette besig om gruwe verkeerde oordeel te gebruik…………..ons mag dit nie vergeet nie.

Skappie ·

Sterkte aan die gesin, en mag die seun vinnig herstel. Die regering moet regtig nou iets begin doen aan hierdie moordenaars en rowers.

Frank John ·

Het hulle darm een berig in nuus toegelaat. Dit is nie die enigste misdaad wat gepleeg word in dié land nie. Meeste word uit die nuus gehou.

SlinkseKoljander ·

Lekker man, Cyril moet so trots wees of sy mense en ons polisie hoof.

Anoniem ·

Die goed werk nou in pakke soos wildehonde, jy kan nie orals keer nie.

Jakes ·

Lafaards doen sulke afskuwelike dade. Daarom is die doodstraf n moet in SA.

Charl ·

Help nie almal van ons lewer elke dag net kommentaar oor hoe die land verval, hoe misdaad toeneem, hoe boere en landsburgers daagliks vermoor word nie, wanneer doen ons iets daadwerkliks hieraan ?? Dis maklik om te praat en jou misnoee te kenne te gee maar wie gaan daardie eerste tree tot aksie neem ?? Waarom kan ons nie saamstaan teen hierdie boosheid nie ? Ek sal julle se…want almal van ons is in ons eie gemaksones en los die probleem vir die volgende ou…wat op sy beurt dieselfde houding het, ja well no fine, dalk gaan dit more beter. DIT GAAN NIE, ons is te behep met ons eie lewens en die bom gaan onder ons agterente bars en dan…?

Jack ·

Eers was dit 4 toe 6 en nou het hulle 8 nodig om ou mense te oorrompel. Lafaards soos ons ook uit die geskiedenis geleer het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.