Man glo aangerand tydens onwettige besettings

Henry Holsthyzen en sy hond, Arrow, op die toneel. (Foto: Facebook)

Die polisie in Noordwes ondersoek ’n saak van aanranding nadat ’n lid van die plaaslike buurtwag glo deur ’n groep mans in Rustenburg aangerand is. Die mans wou na bewering ’n leë mynhuis beset. Die lid van die buurtwag se hond, wat voorheen ’n Guinness-wêreldrekord gebreek het, is ook in die proses beseer.

Henry Holsthyzen (48) vertel aan Maroela Media dat hy Vrydagoggend saam met ander lede van die buurtwag en die owerhede na die betrokke mynhuis in Protea Park ontbied is nadat ’n groep mans die slot van dié huis oopgebreek het.

Volgens die polisie is dié ook nie die eerste poging om ʼn leë mynhuis op dié dorp te beset nie.

Volgens Holsthyzen het hy, sy verloofde en sy hond, Arrow, die betrokke oggend eerste op die toneel aangekom. Hy vertel dat hy probeer verhoed het dat hulle die huis binnegaan en ’n nuwe slot aangebring. Dit is toe dat nog makkers in drie taxi’s en verskeie motors op die toneel aangekom en Holtzhyzen glo met voorwerpe soos ’n graaf en ’n leer aangerand het. Arrow is tydens die voorval op sy rug met ’n voorwerp geslaan.

Skermgreep uit die video.

’n Video van die voorval word sedertdien op sosiale media versprei waarin daar gesien word hoe Holsthyzen en Arrow koes en keer soos voorwerpe in hul rigting geswaai word.

Holsthyzen vertel dat sy verloofde tydens die aanranding in hul motor geskuil het en dat die mans haar glo uit die motor wou dwing. Die mans het glo ook dreigemente teenoor haar gemaak. “My grootste vrees was vir my verloofde en my hond. ’n Ou voel magteloos. Jy probeer die situasie ontlont,” sê Holsthyzen nou.

Hy vertel dat hy en Arrow eindelik daarin kon slaag om tot by sy motor te kom, waarna hy en sy verloofde met die hond na ’n veearts gejaag het. “Hulle sou hom doodmaak,” het hy gesê.

Skermgreep uit die video.

Volgens Holsthyzen is daar genadiglik geen groot skade aan Arrow se rug in die voorval aangerig nie. Arrow het in 2016 ’n Guinness-wêreldrekord gebreek toe hy die eerste teenstropings-hond in die wêreld geword het om valskerm te spring.

Holtshyzen het self net ’n paar kneusplekke in die voorval opgedoen.

Kol. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, het die beweerde aanranding aan Maroela Media bevestig.

Volgens Mokgwabone het die verdagtes na bewering vroeër ook ’n sekerheidswag van ’n myn aangerand toe hulle ’n ander mynhuis wou beset. Niemand is nog in verband met enige van die twee voorvalle of die besettings in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Kokerboom ·

Gebruik drone tegnologie om die rampokkers te identifiseer en uitmekaar te jaag

Jakez ·

Hulle gaan nou weer die verskoning gebruik dat die hond eerste gebyt het.

RekmyBek ·

Wonder of hul toe in huis in is en nou daar bly?
Polisie is baie keer deel van die onwettighede of te bang om op te tree.

Nie Verbaas ·

Wie dink hierdie klomp is hulle eintlik sodat hulle net kan doen wat hulle wil? Dis ons onbevoegde regering wat die klomp gekweek het. Wettelose Suid Afrika. Sluit eerder onskuldige mense toe.

My Mening ·

Dit maak my woedemd om sulke goed te sien en dan kom hulle nog meeste van die tyd ook daarmee weg. Ek is net bly Arrow asook die eienaar en sy verloofde is darem nie ernstig beseer nie. Dit moes nogals baie traumaties gewees het.

Lourens CFG ·

Hoekom word die een gesig gewys, maar nie die krimineel s’n nie? Ek het die video gesien, en die geel hemp was die aggresiefste van almal. Die man met die hond het net gekeer.

Michael 1 ·

Die man se lewe was in onmidelike gevaar as hy n vuurwapen gehad het kon hy die geel aanvaller geskiet het en die ander sou laat spat het soos rotte,en volgens die video sal regskenners vir jou sê dat jy sou aangekla en ondersoek word maar onskuldig bevind word volgens die wet.

TRP ·

Ek wil aan die man en die hond se kant wees as daar ooit oorlog uitbreek, die man is een van staal. Jammer vir die omstandighede, en soos gewoonlik, niemand is in hegtenis geneem nie. Stroop die huise, probleem opgelos.

twaalfboor ·

Lafhartige spesie. Henry ou maat ek ken jou al 48jaar en wat jy als al vir SAPS gedoen het in jou tyd en die teen stropers operasies. Ek lig my hoed vir jou in respek. André.

Fedup ·

Nothing will come of this, unfortunately. The others will do as they please. They will attack and kill to get their way. A very sad truth.

Oujongvrou ·

Maroela ons wag dat julle antw gee oor waarom daai man met geel hemp se gesig uitgevee word, maar die stomme man wat teen oormag moes staan word gewys.

Oujongvrou ·

Maroela moenie my kommentaar nou uitvee want julle wil nie antw nie. Dis nie reg nie. Ek het daai video gekyk, en naar geword.

Botterblommetjie ·

Dit is angswekkend…. Maar wat kan jy maak. Ek voel natuurlik hy moes nie gestop het nie. Veral nie met verloofde. Hulle was reeds gewapen met onnatuurlike wapens, bedoelende, ‘n leer, grawe, saag ens. Ek dankbaar dat al drie veilig is. Mens wil die woonbuurte beskerm, want dit kan jou bure raak en ernstige veiligheids gevolge hê. Ongelukkig is ons hande afgekap, en “hero’s” gaan vermoor word. Ek voel ook die politieke partye wat nie ANC of in die groep val hul strategie verander. Hulle moet ‘n sielkundige benadering asook ‘n kenner op die gebied van sielkundige oorlogsvoering gaan sien, want ons verloor die stryd teen die sielkundige oorlogsvoering (waarin die mense ‘n meestersgraad het)… Ek dink werklik ons moet ophou kwaad, opgewonde ens. raak en liewer stategie wat vir ons (nie ons vir dit) gaan werk vorendag kom. En ons moet ophou om te voel ons moet iemand vertel… ons los monde kos ons baie…. ons woorde is ons ondergang.

Eish ·

Wonder hoeveel jare tronkstraf die aanvallers gaan kry vir poging tot moord?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.