Man glo herhaaldelik deur drie vroue verkrag

Argieffoto

Die Pretoriase polisie ondersoek ʼn voorval waarin ʼn jong man glo oor die naweek herhaaldelik deur drie vroue verkrag is.

Kapt. Colette Weilbach, woordvoerder van die Brooklyn-polisie in die ooste van Pretoria, het Donderdag aan Maroela Media gesê die 23-jarige man het glo Vrydag in Nellmapius, oos van Silverton, in ʼn minibustaxi in Solomon Mahlanguweg (Hans Strijdom) geklim vir ʼn rit middestad toe.

“Buiten die bestuurder van die minibus was daar drie jong vrouepassasiers in die taxi. Op pad na die middestad het die bestuurder van rigting verander en die man gevra om voor te gaan sit. Een van die vroue het die man toe glo met ʼn onbekende middel ingespuit en hy het sy bewussyn verloor,” het Weilbach gesê.

Volgens Weilbach beweer die man dat hy in ʼn onbekende kamer op ʼn enkelbed wakker geword het.

“Die vroue het die man glo gedwing om ʼn energiedrankie te drink voordat hulle beurte gemaak het om hom verskeie kere te verkrag.”

Die man is Sondagmiddag in ʼn oop veld in Benoni aan die Oos-Rand afgelaai waarna iemand hom hulp aangebied het.

“Die man is baie getraumatiseerd deur die voorval en moet mediese behandeling ontvang.”

Tshwane se polisie-eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe (FCS) ondersoek ʼn saak van verkragting. “Die FCS beskou alle verkragtings in ʼn ernstige lig ongeag die geslag van die slagoffer. Die FCS wil slagoffers verseker dat alle voorvalle behoorlik ondersoek sal word en dat geregtigheid sal geskied.”

Die polisie het ʼn beroep op die publiek gedoen om met enige inligting na vore te kom wat die FCS in hul ondersoek kan bystaan. Bel die FCS by 012 353 5301.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.