Man glo in polisiesel ‘doodgemartel’

Argieffoto

Drie polisiebeamptes sal Woensdag in ʼn KwaZulu-Natalse hof verskyn, onder meer op aanklag van moord, nadat hulle na bewering ʼn man in ʼn polisiesel aangerand en gemartel het totdat hy dood is.

Moses Dlamini, woordvoerder van Opod, het gesê daar word beweer dat die drie beamptes, ʼn lid van die Muden-speurdiens en twee lede van die misdaadintelligensie-eenheid in Greytown, op 2 Augustus drie mense ingeneem het vir ondervraging oor ʼn moordsaak wat hulle ondersoek. “Die drie verdagtes is in die Muden-polisieselle aangehou waar hulle aangerand en gemartel is totdat een van hulle aan sy beserings beswyk het,” het Dlamini gesê.

“Die polisiebeamptes het daarna glo ʼn plan beraam om van die oorledene se liggaam ontslae te raak en het dit in nabygeleë bosse gaan stort. Hulle het nie die voorval by hul hoofde aangemeld nie.”

Volgens Dlamini het die oorledene se familie opgemerk dat hy nie huis toe gekeer het nadat hy deur die polisie ingeneem is vir ondervraging nie. Hulle is na dieselfde polisiestasie om hom as vermis aan te meld. Daar het die polisiebeamptes aan hulle gesê die man is dieselfde dag wat hy ingeneem is vir ondervraging weer vrygelaat.

“ʼn Familielid het daarna die saak by Opod se provinsiale kantoor aangemeld. ʼn Taakspan is saamgestel en het onverpoosd gewerk om agter die kap van die byl te kom. Die drie polisiebeamptes is Sondag in hegtenis geneem.”

Die drie polisiebeamptes staan tereg op aanklagte van moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer en dwarsboming van die gereg. Nog inhegtenisnemings word verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johan H. ·

Teveel vrot appels in die polisie . Maak asb van hulle n mooie voorbeeld!!

sweiz ·

Pleks hulle die grond diewe arresteer en deur die regte prosedures sit.

wielie ·

Het seker te veel Chigargo PD gekyk , in daardie reeks het hulle ook die mense aangerand.

CAROL ·

Willie ek stem 100% saam jou. Daar is van die sap wat selfs oortreddings en sake teen hul het???

Nettie ·

@CAROL – die SAPD en menigte der magte ánder staatsinstellings, soos die Weermag, die Lugmag, die Vloot, ESKOM, SA Poskantoor, Transnet, SAL …. noem maar op …. is deurspek van mense wat níé in die minste daar hoort nie en meer korrup, onopgelei, onvaardig en skelmer as die houtjie van die galg is (met apologie aan diegene wie se werk nog hul eer is) – THANKS TO THE ANC: VIVA A QUARTER CENTURY OF ANC RULE, VIVA!!!!!!!!!

(sarkasties bedoel, natuurlik).

Johanna ·

Innige simpatie aan die familie. En ek hoop hierdie polisie manne sit lank. Skokkend maar nie verbaas nie. Hulle dink mos hulle kan maak nes hulle wil.

Allen ·

Was daar meer as een persoon gemartel aangesien die berug lei dat “een” van hulle dood is? Hoe kan iemand van aanranding en moord op een mens aangekla word?

Vicky Alberts ·

Allen,lees asb reg. Daar was DRIE waarvan EEN dood is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.