Man glo tydens rusie doodgeskiet

Dirk Swart en sy seun, Dirk jr. Foto: Facebook

‘n Jong man het Dinsdag in die Bethal-landdroshof in Mpumalanga op ʼn aanklag van moord verskyn nadat ʼn 64-jarige man Saterdag tydens ʼn beweerde rusie in sy huis in die dorp doodgeskiet is.

Sers. Gerald Sedibe, woordvoerder van die polisie, het gesê Frans Jacobus Lotz (19) word aangekla vir die moord op Dirk Swart (64). Hy is Dinsdag op borgtog van R2 500 vrygelaat.

Volgens Sedibe het Swart en sy vrou na bewering Saterdagaand rusie gemaak en die vrou het om hulp geroep. Lotz, wat vermoedelik in hierdie tyd in die huis was, het probeer om tussenbeide te tree. Sedibe het gesê ʼn struweling het ontstaan en Swart is doodgeskiet. Volgens Sedibe behoort die vuurwapen wat tydens die voorval gebruik is aan Swart se vrou.

Swart is op die toneel dood verklaar en Lotz is kort daarna in hegtenis geneem.

Dirk Swart jr., Swart se seun, het op Facebook in ʼn huldeblyk aan sy pa gesê sy pa was een van sy grootste rolmodelle. “Ons het ons verskille gehad Pa, maar een ding is verseker – ons het mekaar altyd lief gehad. Daar was nog so baie wat ons wou doen. Ek kan vir ure aaneen skryf, maar niemand sal ooit verstaan nie,” het hy geskryf. “Pa, gaan rus op jou ma se skoot. Gaan speel met jou broer en suster en laat Oupa ʼn ogie oor jou hou. Uiteindelik. Tot ons weer ontmoet, Pa.”

Swart jr. kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Sedibe kon nie onmiddellik bevestig wanneer Lotz weer in die hof sal verskyn nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

willie ·

ai alles so onnodig, dit is tragies om die minste te sê! vrede en vertroosting vir sy naaste!

Theresa ·

Baie sterkte aan die familie en vriende. Dalk het die jongman regtig probeer help? Dit sal mens seker eers later weet.

Johanna Botha ·

Let op in die berig hoe word die volle name gegee en word daar nie verwys na n ”verdagte” ….hoekom word dit so gedoen?

Moniue ·

Niemand regtig weet wat gebeur het nie. Daar is altyd 2 kante aan n storie. Ek se altyd 2 mense wat baklei se stories werk so. 2 mans of vrouens of man en vrou maak nie saak nie Haar kant Sy kant en dan die waarheid. Onthou n mes het n skerp kant en n stomp kant. Los die gesin uit dat hulle die geliefde man ; pa en oupa kan begrawe in vrede. Hou op om te wonder wat gebeur het dit is die familie se privaatheid laat hulle antwoorde gee.

Nettie ·

Nee, Moniue – elke storie het 3 kante: my kant, jou kant en die WAARHEID. Sjoe, ek dink ons leef werklik in ‘n “trigger-happy” land, want die eerste 3 berigte op MM vanoggend is net oor iemand wat geskiet is.

Geen wenners ·

So hartseer, kan mense nie net om n tafel sit en uitsorteer nie? Verder voel ek vir die jong seun wat wou help en nou in groot moeilikheid is, dit laat mens wonder of jy nie ook maar moet weghol en nie kyk nie.

Liezille ·

@Geen wenners dit is NIE ‘n verskoning om enigiemand dood te skiet nie! Mens tree beskaafd op teenoor jou OUER MEDE MENS en sort dit soos mense uit. Nie soos trigger happy hillbillys nie! As die geweer nie op daardie stadium in Lotz se hande was nie, was die oom nie nou dood nie, en ter loops, die geweer behoort aan die oom se vrou…. so wat het die ding in Lotz se hande gesoek?

Anoniem ·

My hart gaan uit na die familie. Ek wil net noem dat dit ñ ongure situasie is. Lotz het by die Swart’s gewoon. Hy is hul kleinseun, en het die wêreld van sy oupa gedink, dink dit was ñ ongelukkige toemeng van sake.

Danielle ·

Wie was al in n mishandelde verhouding? Wie het al geroep om hulp en niemand kom nie? Ja iemand is dood, maar hoe sou ons weet wat die uitkoms so wees as sy nie geroep het nie? Miskien sou sy in die beskuldige bank staan. Niemand wou n moord pleeg nie. Iemand wou n lewe red… Sy moes in elk geval nie in daardie posisie wees nie. Geen man het die reg om n vrou seer te maak nie…

Joe ·

Ai. Wens mense wil ophou bespiegel en altyd die sleg probeer soek. Lees die berig. Een pesoon is dood en n paar pesone se lewens het/gaan nou verander. Dis n hartseer tragedie. Sterkte aan die naasbestaandes van betrokke partye.

Wonder maar net ... ·

Danielle.. ter aansluiting.. hier is n lewe weggeneem (baie onnodig en verkeerd, feit) Ek wil egter my mening lig, ongevraagd! Niemand weet wat daar gebeur het maar as die rusie reeds van so aard was dat daar hulp krete was kan mens maar net wonder.. en diegene wat nou iemand se kant kies hier, herinner my aan n Maroela Leser wat week of wat gelede gal af gegaan het en die “vermisde sakeman” se lof besing het deur te sê hy is n volwasse persoon wat let wel, NOOIT uit vrye wil sou wegloop nie, en toe? Dag later berig MM dat dit tog wel die geval was. Die dood is niemand se verdiende loon nie, maar ek dink saam die arme vrou se groot hartseer, hoop ek kom baie Vrede ook.

Stella ·

Dit was waarskynlik self verdediging? Geen verskoning, maar tog n moontlikheid dat die ouer man geweldadig was teenoor sy vrou en die jong man haar wou help.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.