Man haal self asem ná tref-en-trap

Dudley Cole saam met sy vrou Ilze en hulle seun, Rogan. (Foto: Facebook / My Brother)

Dudley Cole, die 35-jarige man wat op 15 Mei vanjaar vir die tweede keer die slagoffer van ’n tref-en-trap-ongeluk was, het Woensdag vir die eerste keer sy oë wawyd oopgemaak toe sy vrou, Ilze, met hom praat.

Cole is vandeesweek van die ventilator ontkoppel en haal vir die eerste keer in weke op sy eie asem.

Vir die familie is dít ’n reusestap op ’n herstelpad wat nog baie lank kan duur.

Maroela Media het vroeër berig dat Cole ernstig beseer is toe ’n voertuig in Voortrekkerstraat in Roodepoort teen sy silwer Kia Rio vasgery en weggejaag het. Cole het gevolglik beheer oor sy motor verloor en is met ’n noodhelikopter na die hospitaal vervoer.

Hy het onder meer breinbeserings opgedoen en sy long het platgeval. Cole het ook verskeie bene gebreek.

Die ongeluk het bykans op dieselfde plek gebeur as waar Cole 12 jaar vantevore van sy motorfiets in Ontdekkersweg (wat later Voortrekkerstraat word) afgery is. Die persoon wat destyds teen hom vasgery het, is nooit opgespoor nie en hy was toe ook vir ’n geruime tyd in ’n koma.

“Ons is so dankbaar om te hoor dat Dudley sy oë oopgemaak en vir Ilze gekyk het toe sy met hom praat. Met ’n traumatiese breinbesering soos dié van Dudley kan die ontwakingsproses baie lank duur, maar ons weet egter dat enigiets met die krag van God moontlik is,” sê sy suster, Candice.

Sy sê dat die familie reeds sy vordering vier.

“Die dokter het gesê hy is tevrede met Dudley se spontane bewegings. Hy beweeg ook meer gereeld en is nie meer so gespanne nie.”

Die familie is intussen steeds op soek na die persoon wat die ongeluk veroorsaak het. Die saak is by die polisie aangemeld, maar dit is onduidelik of daar vordering met die ondersoek gemaak is.

Beeldmateriaal wat hulle moontlik in die soektog kan help, is beperk en van lae gehalte.

Hulle weet egter dit was ’n silwer, oënskynlik ligte voertuig wat Dudley se ongeluk veroorsaak het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nie Verbaas ·

Ons is baie dankbaar oor sy vordering. Net jammer dat die hartelose lafhartige skuldige nog nie aangekeer is nie.

Die Boerepompie ·

Ek baie bly vir julle .as die wett in ons land wil saam werk vir julle hoop ek die ou word gevang en kry rtonk straf

Toy ·

Die persoon wat in hom vasgery het, se gewete sal hom dalk nog so pla hy/sy sal uitkom. Die Here weet wie dit gedoen het en sal werk maak daarvan.

Anoniem ·

Dit is wonderlike nuus, sterkte aan die familie en aan Cole. Ek hoop die “Skuldige” se gewete pla hom so dat hy homslf gaan oorgee.

Yolande ·

Baie bly vir hom en sy familie, sterkte vir die herstelpad vorentoe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.