Man hardloop 90 km vir jawoord

Dié drawwer het 90km gehardloop om ‘n vrou te vra om te trou. (Foto: Skermgreep)

ʼn Deelnemer aan vanjaar se Comrades-marathon het Sondag skynbaar gemeen die eindstreep is ʼn gepaste plek om ʼn vrou om haar haar hand te vra.

ʼn Foto van ʼn drawwer wat ʼn banier met die woorde “Prudence, sal jy met my trou? Ek het 90 km vir jou gehardloop” het sosialemediagebruikers se verbeelding aangegryp. Die foto van Joseph Kagiso Ndlovu (57) is naby die eindpunt geneem. Hy het die marathon in bykans agt uur voltooi.

“Prudence is ʼn gelukkige vrou,” het een sosialemediagebruiker gesê. Nog een het geskerts “Prudence moet nou ook 90 km hardloop om ja te sê”.

Altesaam 15 986 mense het aan vanjaar se wedloop van Pietermaritzburg na Durban deelgeneem. Tete Dijana het Sondagoggend eerste oor die wenstreep gehardloop en die wedloop in 05:30:38 voltooi. Dijana is ʼn veiligheidswag op die Noordwes-Universiteit se Mahikeng-kampus en het soggens geoefen nadat hy heelnag gewerk het. Hy het ʼn paar maande gelede verlof geneem om voluit vir die Comrades voor te berei, het Kaobitsa Bushy Maape, premier van Noordwes in ʼn verklaring gesê.

“Dijana hardloop al van ʼn vroeë ouderdom en sy storie is die verpersoonliking van deursettingsvermoë,” het die premier gesê. Hy het Dijana en Edward Mothibi, wat tweede geëindig het en ook van Noordwes afkomstig is, gelukgewens met die wonderlike prestasie. “Dit is ʼn bewys dat ons provinsie hope talent het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Elma ·

Premier Kaobitsa, jy het vergeet om Dr Adele Broodryk, OOK van NW en van die PUK, wat derde gekom het in haar debut Comrades, geluk te wens.

Hannelie ·

Ek weet van nog iemand wat dit gedoen het. Dit dis kosbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.