Man hardloop weg van ongeluk waarin vier sterf

Argieffoto

Argieffoto

Die Limpopo-polisie is op die spoor van ʼn bestuurder wat Woensdagmiddag van ʼn ongelukstoneel weggehardloop het waarin vier mense, onder wie ʼn vyf maande oue baba, dood is.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die ongeluk het omstreeks 14:30 in Magatle, buite Lebowakgomo, plaasgevind.

“Drie voertuie was in die ongeluk betrokke. Voorlopige ondersoek dui daarop dat die voorste voertuig in die middel van die pad stilgestaan het sodat rondloperdiere die pad kon oorsteek en nog ʼn voertuig was agter dit,” het Ngoepe gesê.

“Die bestuurder van ʼn 1400 Nissan-bakkie, wat passasiers en goedere vervoer het, het teen ʼn hoë spoed teen die voertuie gebots, waarna die bestuurder van dié bakkie van die toneel weggehardloop het.”

Die vier mense wat dood is, was almal passasiers op die bakkie. Hulle is op slag dood. Twee mense, wat ook op die bakkie was, is kritiek beseer en na die Zebediela-hospitaal geneem vir mediese behandeling.

Die bestuurders van die ander twee voertuie was alleen in die voertuie en is ongedeerd.

ʼn Volskaalse soektog na die bestuurder van die bakkie is van stapel gestuur en sy identiteit is bekend aan die polisie. Die polisie ondersoek ʼn saak van strafbare manslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Erica Albertse ·

Hoop hul vang hom en hy word baie swaar gestraf. Hy was natuurlik onder die invloed van drank en/of sonder die nodige rybewys!! Dit is ongelooflik hartseer!!!! Sterkte aan die geliefdes en families. RiV maatjies.

Dronkhol ·

As iemand ooit weghol van n toneel moet daar aangeneem word dat hy dronk was van nou af asseblief.

Asjas ·

Solank die regering wetteloosheid, roekelose bestuur en korrupsie onder staatsamptenare nie aanspreek nie moet hulle maar stemme aan die dood afstaan.
Koud, yskoud … ek weet, maar dit is hoe ek voel nadat ek vanoggend weer amper my en my kinders se lewens kwyt is omdat taxi deur rooi lig jaag!

Cherokee ·

Waarom net van nou af? Was dit nie die geval vroeër ook nie?

Skim ·

Hoe hol jy weg van die toneel waar mense dood is? Dink jy regtig niemand gaan jou opspoor nie? As dit jou bakkie is, of jy enige konneksie met die bakkie het GAAN jy opgespoor word, dit is net ‘n kwessie van tyd. Wonder altyd of dit skok is en of mense se koppe net uithaak en hulle dan weghol en dink hulle gaan daarmee wegkom? Dis vreeslik van al die mense wat in die ongeluk dood is. Sterke aan die familie en naasbestaandes van die oorledenes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.