Banie Coetzee, die man van Heidelberg in Gauteng wat erge brandwonde opgedoen het tydens ʼn gasontploffing in sy motorhuis, is vandeesweek ná 29 dae in die hospitaal uiteindelik ontslaan.
Coetzee (41) sterk nou tuis aan nadat hy byna ʼn maand in die hospitaal deurgebring het waarvan hy tien dae lank onder verdowing was. “Dit is maar nog ’n bietjie vreemd om by die huis te wees, maar ek is dankbaar om uit die hospitaal te wees,” het hy Woensdag gesê.
Maroela Media het vroeër berig Coetzee het op 21 Mei ʼn lekkende gasbottel in sy motorhuis neergesit, maar later, toe hy agterkom dat die bottel steeds lek, dit buite die huis gaan sit. Ure later was hy in die motorhuis besig en het hy ʼn sigaret aangesteek, onwetend dat daar steeds gasdampe in die motorhuis was.
Dit het ʼn reuse-ontploffing veroorsaak en Coetzee het brandwonde aan 50% van sy liggaam opgedoen, terwyl sy longe en lugweg ook beskadig is. Hy het sedertdien verskeie operasies ondergaan om sy wonde skoon te maak en ʼn veloorplanting is ook op sy regterarm en maag gedoen. Sy longe het intussen heeltemal herstel en hy ondergaan fisioterapie om sy spiere te versterk.
Coetzee sê hy kan die gebeure van daardie dag baie duidelik onthou, en onthou hoe die ontploffing deur die motorhuis geruk het. “My buurman het aangehardloop gekom en ek het dadelik vir hom gevra of hulle oukei is. Ek het glad nie besef hoe erg ek gebrand het nie. Eers toe ʼn paramedikus later vir my sê ek moet stil lê, want ek het ernstige brandwonde opgedoen, het ek besef hoe erg dit was,” vertel hy.
Hy sê die voorval het sy hele uitkyk op die lewe verander en hy besef dat hy ʼn lewende voorbeeld van God se genade is. “Ek was gister weer by die huis waar die ontploffing gebeur het om te gaan kyk hoe dit lyk. Ek het vir my vrou gesê, ek kan nie glo ek het lewend hieruit gestap nie,” sê Banie.
“Ek het heeltemal ophou rook en ek wil hard werk met die fisioterapie sodat ek heeltemal kan herstel. Maar ek weet die spiere wat nog nie so lekker wil saamwerk nie, is niks in vergelyking met die lewe wat ek gekry het nie. Ek is baie gelukkig.”
Coetzee, ʼn kalibreerder van beroep, sê hy is nog nie seker wanneer hy sal kan terugkeer werk toe nie en wag nog op sy dokter om hom die groen lig daarvoor te gee.
Intussen word hy oorweldig deur gebede en boodskappe van ondersteuning wat van tot so ver as die VSA, Skotland en Australië af instroom. “Dit is ongelooflik. My hele persepsie van mense het ook verander. Ek kan nie glo dat mense so genadig is om so aan iemand anders te dink en vir iemand anders te bid nie – selfs mense wat my nie eens ken nie. Dit het ontsettend baie vir my beteken. Ek is ongelooflik dankbaar.”
Prys die Here. Baie sterkte vir julle.
Sterkte . Ons dien n God van wonders.
Ja-nee wraggies, wat n wonderwerk. Baie bly jy is nog n kans gegee en dat dit so goed gaan. Dankie Maroela, dat julle ons op hoogte gehou het met sy vordering.
Hein, hoekom nie, daar is niks fout met jou kommentaar,
Nog ‘n wonderwerk wat oorvertel kan word. Here se Genade EN Sy Liefde is G R O O T. Sterkte Banie ons almal hou aan met bid vir julle huisgesin.
Banie my neef, ons is so bly dat jy n vegter was deur hierdie stryd wat jy moes deurgaan. Ek wil net aan ieder en elk se baie dankie vir jul ondersteuning en gebede van orals af. Jul het geen idee hoe baie dit vir ons almal en meeste vir Banie en Natasha beteken. Ek wil ook net aan my neef en Natasha se jul is dierbare mense en ons life jul oneindig baie. neef wwes die yster man wat jy is en worg gou gesond. Ons Hemelse Vader daar is nie genoeg woorde om voor dankie te kan se, U het ons almal se gebede verhoor en wonderwerke gedoen sodat ons vir Banie nog by ons te kan he. U is ons Almagtige God en U beskerm ons. As daar enige iemand getwyfel het kan hul gerus dit voor U voete neerle. Liewe Heer, as ons vandag moed en hoop verloor, Herinner ons asseblief daaraan dat U planne met ons groter is as wat ons drome is. Amen
Banie, dis wonderlike nuus. Prys die Here vir Sy groot genade. Baie sterkte vorentoe vir jou en jou gesin.
Dis goeie nuus, so bly vir die familie. Sterkte verder op die herstelpad.
Banie…. Genade, genade en nogmaals genade!!! Liewe Jesus het jou geken nog voor die grondlegging van die aarde… Jou naam was op Sy lippe… Hy is die Groot Geneesheer! Jy is ‘n lewendige getuienis!!