Man het onwettig staatsgrond verkoop

Argieffoto

Argieffoto

Die departement van menslike nedersettings het Donderdag gesê ʼn man is skuldig bevind op 94 aanklagte van bedrog wat met staatsgrond verband hou.

“Richard Zikhali sal Vrydag in die Johannesburgse gespesialiseerde handelsmisdaadhof gevonnis word nadat hy onwettig grond in Lenasia en Ennerdale verkoop het,” het Motsamai Motlhaolwa, woordvoerder van die departement, gesê. “Zikhali, die meesterbrein, het sy betrokkenheid by die misdade erken en hy is steeds in aanhouding sedert sy inhegtenisneming in 2010 nadat hy mense uit miljoene rand gekul het deur onwettig staatsgrond te verkoop.”

Zikhali se vrou, Hlengiwe Ximba, het ook skuldig gepleit op aanklagte van korrupsie en is tot ses jaar tronkstraf gevonnis, waarvan drie jaar opgeskort is.

Michael Magodola, wat ook tereg gestaan het op 94 aanklagte van bedrog, is onskuldig bevind ná skulderkentenisse deur Zikhali.

Intussen sal Aaron Mkhabela, wat homself glo as ʼn regeringsbeampte voorgedoen het, Vrydag in die Johannesburgse landdroshof verskyn. Hy wou glo HOP-huise en -woonstelle in Lehae en Mzimhlope in Johannesburg verkoop. Mkhabela is tydens ʼn klopjag deur die departement se teenbedrog- en korrupsie-eenheid en die Valke in hegtenis geneem ná voornemende kopers in Februarie ʼn wenk aan hulle verskaf het. “Die voornemende koper het ʼn klag gelê nadat sy ʼn bedrag van R1 300 aan die verdagte oorbetaal het in ruil vir ʼn HOP-huis,” het Motlhaolwa bygevoeg. Hy het op 10 Februarie in die hof verskyn en is op borgtog vrygelaat.

Twee mans is in ʼn afsonderlike voorval in hegtenis geneem vir hul betrokkenheid in die onwettige verkoop van staatsgrond in Lenasia. “Die twee verdagtes wou staatsgrond in die gebied aan ondersoekbeamptes van die Valke verkoop,” het Motlhaolwa verduidelik. David Mofokeng, wat ook as “Lepolisa” bekend staan, en Thabo Moloi is op borgtog van R5 000 vrygelaat nadat hulle in die Johannesburgse landdroshof verskyn het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.