Man, hond van krans gered

Die man is na veiligheid gehys. (Foto: Verskaf)

ʼn Man is Sondag gered nadat hy etlike meters van ʼn krans in KwaZulu-Natal afgestort het. Die man se lojale hond is ook gered nadat dié glo saam met die man gewag het totdat hulp ontbied is.

Die 30-jarige man het saam met sy hond in die gebied van Lunganda naby die Umlazirivier gestap toe hy sowat 15 m by die krans afgeval het.

Die hond het glo nie van die krans afgeval nie, maar later teen die helling afgeklim om by die man te sit en wag totdat hulp opdaag.

Gavin Raubenheimer, KwaZulu-Natalse soek-en-redding-sameroeper van die Bergklub van Suid-Afrika, sê soek-en-reddingspanne bestaande uit provinsiale nooddienste, die Durbanse metropolisie, die honde-eenheid en lede van die Bergklub is die middag na die toneel ontbied.

“Mediese personeel is na die pasiënt afgehys en het hom ondersoek,” sê Raubenheimer.

“Die man het verskeie snye opgedoen, sy skouer is uit sy potjie en een van sy bene het ʼn fraktuur.”

Die man is op ʼn voubed geplaas en tot bo-op die krans gehys. Hy is na ʼn plaaslike hospitaal geneem vir behandeling.

“Nooddienste het die man se getroue hond langs hom aangetref en hom later na veiligheid toe gehys.”

Die hond het geen ooglopende beserings opgedoen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Fae Fubar

Wonderlike nuus. Hoop die pasiënt herstel gou en dat sy hond ‘n lekker groot T-been steak kry.

JL

Wat ‘n pragtige storie om die Dinsdag mee te begin. Sterkte vir die beseerde.

Elmarie

Die mens se BESTE vriend!

AW

Dankie MM, vir nog n Wonderlike , Warm Gevoel, Blymaak , Berig !!

Ekke het n paar dinge beleef, in my Lewe, net soos ander Mense, en al gesien die getrouheid van diere, veral honde teen oor hul eienaars !!

Wat dan ook Hart verskeurend is , wanneer mense nie omsien na hul diere nie !!

Maar ongeag, Dankie MM

Carina

Spoedige herstel en daardie woef moet n groot bederf kry. Ware liefde