Man ‘honderde jare’ gevonnis vir diefstal by selfoontorings

hof-hamer

Argieffoto

ʼn 30-jarige man is Woensdag in die Kaapstadse streekshof tot 500 jaar tronkstraf gevonnis op 25 aanklagte van diefstal. Die vonnisse word egter gelyktydig uitgedien sodat die skuldige net 13 jaar agter tralies sal sit.

Die man, David Jenkins, van Parklands in Kaapstad, het op al 25 aanklagte skuldig gepleit en ʼn vonnisooreenkoms met die staatsaanklaers aangegaan. Jenkins is vir elke aanklag tot 20 jaar tronkstraf gevonnis, wat dan 500 jaar beloop. Die hof het sewe jaar van elk van die 20 jaar lange vonnisse opgeskort.

Jenkins het erken dat hy toerusting ter waarde van R1,6 miljoen van selfoontorings gesteel het en dat hy tussen 11 Januarie en 9 Februarie 2018 in sy voertuig rondgery en breëband-kraglynkaarte (BPL) gesteel het.

Hy het ook erken dat hy aan MTN-selfoontorings oor die hele Kaapstad-omgewing asook die Boland-omgewing gepeuter het. Hy het MTN-torings geteiken in Dunoon, Table View, Paarl-Suid, Paarl, Bellville-Noord, Bellville, Parow, Strand, Lwandle, Mowbray, Hermanus, Hawston, Durbanville, Duinefontein, Melkbosstrand, Kraaifontein, Eersterivier, Goodwood, Athlone, Delft, Elsiesrivier en Milnerton.

Hy het ook erken hy het internetverbindingkabels van Cell C-torings gebuit.

Adv. Ronelle Stone het in die hof gesê daar is ʼn skerp toename in hierdie soort misdrywe volgens die jurisdiksie van die hof. “Die gevolge van hierdie soort oortredings is baie ernstig en die straf wat opgelê word, moet dien om die samelewing te beskerm,” het Stone gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Manie

500 Jaar vir R1.6 Miljoen klink reg vir my. Gebruik asb presies dieselfde formule vir staatskapers.

Peetjie

Die “500 jaar” klink vir my reg, maar om uiteindelik net 13 jaar te sit, waarvan n derde weer afgeskryf gaan word, klink glad nie reg nie… Ek sou graag hulle sommetjies wou sien hoe hulle daarby uitgekom het….

Kerneels

Kan ‘n regskundige asseblief vir my verduidelik wat is die logika/redenasie agter vonnise wat gelykloped uitgedien word? Vir my as leek maak dit geen sin nie.

Pierre

Wat is jou sel nr? 3b.

Duwweltjie

Die straf wat opgelê is reflekteer glad nie ernstigheid van die misdryf nie.