Man hoor oor borgtog ná plaaswerker se skietdood

Dié foto van die werker se bebloede liggaam wat bo-op die trekker lê is Maandag op sosiale media gedeel. Die foto is deur Maroela Media verbloem weens die grafiese aard daarvan. Foto: Facebook

ʼn Veiligheidswag het Maandag in die Krugersdorp-landdroshof verskyn in verband met die dood van ʼn plaaswerker wat op 6 Januarie in die Tarlton-omgewing buite Krugersdorp doodgeskiet is.

Petrus William Johannes Durant (46) het op aanklag van moord in die hof verskyn. Phindi Louw, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het aan Maroela Media bevestig Durant is op borgtog van R10 000 vrygelaat. Die saak is uitgestel tot 13 April vir nadere ondersoek.

Maroela Media het vroeër berig Aaron Mutavhatsindi (43) is doodgeskiet nadat hy na bewering ʼn trekker van sy werkgewer sonder toestemming geneem het.

Trevor Roberts, ʼn plaaslike inwoner wat die oorledene se werkgewer en mense na aan die voorval ken, het vroeër aan Maroela Media gesê Mutavhatsindi het glo die trekker gesteel en die plaas daarmee verlaat. Die bestuur van die plaas aan wie die trekker behoort, het daarna ʼn plaaslike veiligheidsmaatskappy gebel en gevra om op te tree.

Volgens Roberts het ʼn veiligheidswag Mutavhatsindi agternagesit wat roekeloos op die N14 bestuur het tot by die Matshelapad- informele nedersetting waar die skietery plaasgevind het. Sy dood het aanleiding gegee tot erge rassespanning in die gebied en sommige politieke partye en organisasies het die saak as ʼn rassevoorval bestempel.

JacarandaFM berig landdros Abdul Khan het egter Maandag tydens die hofverrigtinge gesê op grond van die bewyse wat tans tot die hof se beskikking is, was dit nie ʼn rassevoorval nie, maar bloot ʼn misdaadvoorval. Een van die oorledene se ondersteuners het daarna in die hof geskree: “As die oorledene wit was, sou die beskuldigde nie so opgetree het nie.”

Louw het aan Maroela Media gesê die hofverrigtinge is ontwrig toe EFF-ondersteuners in die hof begin skree en direk met Khan probeer kommunikeer het terwyl hy nog sy beslissing oorgedra het. Die hof het verdaag om die ordonnanse toe te laat om orde te herstel, voor Khan teruggekom het om sy beslissing te lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Sophia ·

Minagting van die hof? In my dae was jy toegesluit daarvoor.

Middagete sevoet ·

Sie die berigte van ander media wat beweer die trekkerdief was net oppad huistoe om ewe onskuldig middagete te gaan kry was misleiery.

Grassie ·

Daar bestaan nie iets soos net “‘n trekker te neem sonder toestemming” nie. As jy iets sonder toestemming vat wat nie aan jou behoort nie is dit diefstal. As ek reg verstaan was die man nie meer op die plaas werksaam nie.

Dan ·

Ja Grassie, ek stem saam. Die berigt/e lui nou weer rassisme-klokke in die wind..

PJC ·

Die arme veiligheiswag het maar net gedoen wat hy gevra is om te doen en hoe stop jy ń trekker wat nie wil stop nie. Soos met ń motor wat wegjaag skiet jy op hom. Ek wonder ook waar kry die arme wag daai soort borggeld want hulle verdien maar min. Hopelik het die gemeenskap gehelp.

Al ·

Veiligheidswagte kry nie groot salarisse nie, waarom moet die arme man so hoë bedrag betaal vir borgtog?
Die EFF en ANC veroordeel nie moorde teenoor wittes nie. Hoe pateties.

SjN ·

Die oproeriges moes deur die opdrag van die landros in hegtenis geneem word vir dwarsboming van die reg

Siek en sat ·

Die man wat in die hof die raskaart geskreeu het moet liewer stilbly. As dit andersom was was die trekker nog op die plaas. So moeg vir die mense wat altyd van n saak n rassistiese een wil maak.

Ontevrede Leser ·

axi bestuurder veroorsaak dat kinders dood is op n spoor oorgang, hy word op waarskuwing vrygelaat en uiteindelik beboet met r800.00 rand boete, NOU HOE NOU

Aggenee ·

Rasse kaart sal maar altyd gespeel word tot in lengte van dae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.