Man hoor oor borgtog ná ‘vuuraanval’ op sy vrou

Tracy Samuels. Foto: Instagram

Die Roodepoort-landdroshof het Vrydag uitspraak gelewer in die borgtogaansoek van Greg Samuels (45) wat daarvan verdink word dat hy glo op Oukersdag ʼn vlambare vloeistof oor sy vrou, Tracy (39), uitgegooi en dit aan die brand gesteek het.

Maroela Media het vroeër berig ʼn suiwer vorm van asetoon wat gebruik word om oppervlaktes mee skoon te maak is ten aanskoue van die egpaar se 12-jarige seun oor haar uitgegiet nadat sy ʼn rusie met haar man, glo oor ʼn WhatsApp-gesprek, gehad het.

Samuels is na ʼn staatshospitaal gehaas waar daar nie ʼn brandsorgeenheid was nie.

Die Hero Burn-stigting, ʼn niewinsgewende organisasie wat ondersteuning bied en omsien na brandslagoffers, het van die voorval te hore gekom en gereël om haar na die brandsorgeenheid van die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto oor te plaas. Haar toestand was kritiek en sy moes aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel word.

Samuels is ná die aanval in hegtenis geneem en sou in die landdroshof in Roodepoort verskyn het, maar die saak is van die rol geskrap weens te min bewyse. Die staatsaanklaer het daarna opdrag gegee dat die ondersoekbeampte die saak verder ondersoek, waarna opdrag gegee is vir Samuels se herinhegtenisneming. Hy is op 25 Januarie in Roodepoort in hegtenis geneem en het die dag daarna vir die eerste keer in die plaaslike landdroshof verskyn. Aanvanklik is ʼn saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer ondersoek, maar dit is intussen na ʼn klag van poging tot moord verander.

Die Hero Burn-stigting het nadat die saak geskrap is ʼn prokureur van die regsfirma Wentzel en Vennote se dienste ingewin om te help met Samuels se herinhegtenisneming. Die firma het die staat bygestaan om Samuels se borgtog teen te staan.

Sy borgtog is Vrydag deur die landdros van die hand gewys. Hy bly in aanhouding tot hy weer op 15 Februarie in die hof met verskyn.

Volgens Annerie du Plooy, direkteur van die Hero Burn-stigting, is Tracy verheug dat daar uiteindelik geregtig opgetree word en is sy vol hoop dat geregtigheid uiteindelik kan geskied.

“Greg se aksies op daardie die aand was onder geen omstandighede net aanranding nie. Brand is ernstig, en om iemand lewend aand die brand te steek is nie net poging tot moord nie, dit is die wreedste trauma waardeur iemand gesit kan word. Daar moet streng opgetree word sodat die boodskap uitgestuur word dat hierdie tipe dade glad nie geduld sal word nie,” het Du Plooy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

PJC ·

Ek hoop hierdie ou kry nooit borg nie. Sy optrede was roekeloos en gevaarlik en hy hou gevaar in vir almal om hom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.