Man hoor sy lot ná aftreeoord-moord

Tersius du Plessis het in die hof verskoning gevra vir die moord op Johanna Rossouw. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Tersius du Plessis (36) wat vroeër in soveel woorde gesê het dat hy Johanna Rossouw by haar huis in die Eden Park-aftreeoord in Emalahleni vermoor het, is Vrydag gevonnis.

Monica Nyuswa, woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het gesê Du Plessis is lewenslange tronkstraf opgelê op aanklag van moord en 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word. Du Plessis is ook onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

Hy het vroeër vandeesweek skuld beken op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede. Dít nadat hy reeds in Februarie tydens sy eerste hofverskyning in die landdroshof in Emalahleni (Witbank) gebieg het.

Hy het vandeesweek vir haar familie om verskoning gevra. “Julle lyk na goeie mense. Ek is so jammer vir wat ek aan julle gedoen het.”

Hy hou vol “hy weet nie hoekom hy dit gedoen het nie”.

Maroela Media het vroeër berig Du Plessis het Rossouw op 31 Januarie by haar huis in die Eden Park-aftreeoord in Emalahleni vermoor toe hy ingebreek en sy hom op heter daad betrap het. Du Plessis het dié dag dwelms gebruik en wou waardevolle besittings steel om te verkwansel.

Luidens sy skulderkenning het hy nie geweet iemand is tuis toe hy die dag die deur in Fuchsiastraat sien oopstaan nie. Hy het nie vir Rossouw geken nie en was bloot op soek na waardevolle items om te verkoop nadat hy sy geld en selfoon weggedobbel het.

Du Plessis het by die huis ingesluip, maar is deur Rossouw verras en gekonfronteer. Hy het haar oorval en aangesê om stil te bly. Sy het egter geskree waarna hy ’n mes in die huis gegryp en haar verskeie kere in die nek en bolyf gesteek het.

Hy was ná die moord verbouereerd en bang. Hy het Rossouw se selfoon en motorsleutels gegryp en in haar Honda Jazz gevlug. Hy het sy vriendin onderweg na Gauteng gebel en gebieg oor wat hy gedoen het.

Hy het hom kort daarna aan die Mondeor-polisie oorgegee.

Rossouw word oorleef deur vier kinders en kleinkinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Mariana ·

Bly hy word nou gestraf vir sy daad. Nou moet ander moordenaars en geweldenaars ook net hul straf kry.

Maggies ·

Wonder waarom die “af” gesiggie twee keer gedruk is.
Sy straf is welverdiend én ek hoop ook dat ál die geweldenaars en moordenaars ook strawwe vonnisse kry. Wel ook sonder parool binne die volgende 10 jaar.

Toy ·

Hy se hy weet nie hoekom het hy dit gedoen nie, maar in ‘n ander sin se hy, hy het die dag dwelms gebruik en het goed gesoek om te verkoop, so dan weet hy mos, hy het nie nodig gehad om die tannie te vermoor nie.

Papsak ·

Ek stem hy kon gedink het voor hy net gedoen het nou te laat vir spuit wees sy is weg vir altyd laat hy harde les maar leer

Gerra ·

Ek sou graag wou weet hóé hy by Eden park ingekom het.
Daar is sekuriteit by hekke en jy moet teken om in te kom en uit te gaan

Nico ·

Hy het ‘n lewe geneem daarom moet sy lewe ook geneem word, ‘n oog vir ‘n oog.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.