Man hou vrou, seun aan in huis

(Argieffoto: Miguel Roberts/AP)

’n Man is in hegtenis geneem nadat hy Maandag sy vrou en seun in hul huis in Maraisstraat in Brooklyn met ’n vuurwapen as gyselaars aangehou het.

Kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, sê die man en sy vrou het ’n woordewisseling gehad toe hy skielik ’n vuurwapen uitgeruk en skote in die lug afgevuur het.

Die skote is in die straat gehoor en die plaaslike veiligheidsmaatskappye is in kennis gestel om hul na die huis te haas. Die polisie is omstreeks 15:15 na die toneel ontbied.

Volgens Masondo was die vrou en seun reeds buite die huis by die polisie se aankoms op die toneel. “Hulle het daarin geslaag om uit die huis te kon ontsnap. Ons het nie die man gewaar nie. Ons het gedink hy mag dalk in die huis wees, maar hy was skoonveld.”

’n Polisiehelikopter is ontbied om te help soek na die man. Hy is later op hul woonhuis se erf gevind, waar hy weggekruip het. Die toneel is eers ná 19:00 opgeklaar.

Die man is in hegtenis geneem en is steeds in aanhouding.

Wayne Grindell van Emer-G-Med, die ambulansdiens wat ook op die toneel was, sê niemand is beseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.