Man in die wynvat: ‘Dít hou my aan die gang’

Vernon Kruger in die wynvat. (Foto: Verskaf)

Die eerste ding wat die man in die wynvat wil doen wanneer hy by die huis terugkom, is om in sy eie bed te slaap. “Ek sien uit na lekker slaap,” sê Vernon Kruger, wat nou al meer as ʼn maand lank in ʼn wynvat op Dullstroom sit.

’n Mens kan hom nie miskyk wanneer jy dié dorp in Mpumalanga besoek nie. Die man in die wynvat op ’n 26 m hoë paal is reeds die afgelope maand vanaf die hoofstraat van dié dorp te sien sedert hy op 14 November vanjaar met behulp van ’n helikopter in die wynvat geplaas is. Hy sal vir nog sowat ’n maand in dié wynvat bly.

Kruger (52) beoog om sy eie Guinness-wêreldrekord van 67 dae en 14 minute in ’n wynvat in die lug te verbeter. Hy het dié rekord in 1997 op dieselfde dorp opgestel. Kruger was destyds 29 jaar oud toe hy die rekord op dieselfde plek aangepak het. Die enigste verskil is dat die paal destyds 21,3 m hoog was.

Kruger is van beroep ’n kommersiële duiker in Plettenbergbaai in die Wes-Kaap. Dit was egter moeilik om dáár die nodige toestemming te kry om sy vorige rekord te breek en hy het besluit om weer sowat twee maande in ’n wynvat op Dullstroom aan te pak. “Die dorpsmense was baie goed vir my die eerste keer,” vertel hy telefonies aan Maroela Media vanuit die wynvat.

Kruger het Woensdag die halfpadmerk bereik in sy doel om enigiets meer as 67 dae en 14 minute in die wynvat te bly.

Kos en ander benodighede word die afgelope maand met behulp van vrywilligers in ’n emmer op en af met die paal gestuur. Enige afval word op dieselfde manier verwyder.

Hy vertel dit is elke keer vir hom ’n verrassing wat hy in die emmer kry. Restaurante in die dorp voorsien hom van kos en bederf hom met heerlike maaltye of koffie. Hy steek selfs ’n vuurtjie aan daar bo en braai vleis wanneer die lus hom beetpak.

“Mense bring sporadies deur die dag vir my goed hier aan. Partykeer kry ek biltong of lekkers of briefies van iemand af. Dit hou my aan die gang,” vertel hy.

Nie eens swaar reën kan hom stuit

Vernon Kruger in die wynvat. (Foto: Verskaf)

Kruger vertel dat hy uiterste weerstoestande in die wynvat bo in die lug beleef. Dit was veral moeilik toe swaar reën onlangs vir ’n week lank oor Dullstroom uitgesak het.

“Dit was eers verskriklik warm en jy brand so maklik hier bo. Ek het ’n sambreel wat ek opslaan. Ek het ook ’n dakkie wat ek kan oortrek wanneer dit reën. Verlede week se reën was so erg. Dit het nie opgehou nie. Dit was seker die verveligste tyd. Ek kon ook nie opstaan of strek nie.”

Volgens Kruger het hy tot dusver nog nie siek geword daar bo in die lug nie. “Ek het hierdie keer voor die tyd dokter en tandarts toe gegaan. Ek het nie eers daaraan gedink die vorige keer nie.”

Op die vraag oor hoe ʼn mens se gemoedstoestand die dae in die wynvat hanteer, antwoord Kruger dat die mooi uitsig en vriendelike mense op die grond dit heel draaglik maak.

“Dis so mooi as ek rondkyk en daar is so baie om te sien. Daar is ook heeltyd mense onder die paal wat met my gesels of mense wat my bel. Ek word die heeltyd geroep of motors druk hul toeters vir my. Ek is baie besig in daardie opsig.”

Hy vertel dit raak soms uitputtend wanneer mense deur die loop van die aand na hom skree van onder die paal. Daar word nou selfs planne beraam om die area rondom die paal en wynvat snags toe te span sodat Kruger saans genoeg slaap kan inkry.

Waarom juis ’n wynvat?

Vernon Kruger in die wynvat. (Foto: Verskaf)

Kruger verduidelik dat hy as jong man gedurende ’n vakansie in ’n palmboom geklouter het. ’n Vriend het hom uitgedaag om die rekord te verbeter vir die persoon wat die langste nóg in ’n boom gesit het.

“Dit was egter baie moeilik aangesien daar klaarblyklik ’n persoon in Indonesië is wat reeds die afgelope 27 jaar in ’n boom woon. Dit sou nogal moeilik wees,” lag Kruger.

Daarom dat hy toe maar ʼn wynvat gekies het.

Volgens Kruger pak hy ook nie net hierdie ding aan vir eie gewin nie, maar samel nes die vorige keer geld in vir liefdadigheid. Alle fondse wat dié keer ingesamel word, gaan na ’n kinderhuis op Belfast en epilepsielyers in Dullstroom.

Die wynvat (Foto: Verskaf)

“Dit is nie net vir myself nie. Ek wil ook teruggee en ander help. Daar is ook baie ander rekordhouers in Suid-Afrika waarvan mense nie weet nie. Ek hoop om hulle in die hande te kry en ook vir hulle publisiteit te gee.”

En wat is die een ding waarna die Man in die Wynvat uitsien wanneer hy weer voet aan land sit? “Dit is ’n maklike een. Ek wil in my groot bed slaap. Ek sien uit na lekker slaap,” antwoord hy.

Besoek die Facebook-blad ‘Up the pole in Dullstroom’ om Kruger se doen en late bo in die wynvat te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.