Man in gekaapte voertuig se kattebak gevind

Die motor wat glo gekaap is. Foto: Verskaf

ʼn Man is in Middelburg in Mpumalanga in hegtenis geneem nadat hy glo ʼn inwoner se voertuig gekaap het, hom in die voertuig se kattebak geprop het en daarna in ʼn ongeluk betrokke was.

Kol. Mtsholi Bhembe, polisiewoordvoerder, het gesê die voertuig, ʼn Audi A4, is glo Woensdagmiddag in die Kanonkop-omgewing gekaap.

“Die man het die eienaar van die voertuig in die kattebak ingedwing en weggejaag. Hy het in ʼn stadium beheer oor die voertuig verloor nadat hy sommige verkeersligte verontagsaam en in ʼn sloot beland het,” het Bhembe gesê.

Bhembe het gesê ʼn paartjie het by die ongelukstoneel stilgehou om die bestuurder van die voertuig by te staan, toe hy ʼn vuurwapen uitgeruk en dit op hulle gerig het. Hy het na bewering die sneller getrek, maar niks het gebeur nie.

Die verdagte het te voet op die vlug geslaan. Die man wat stilgehou het om te help, het hom agternagesit toe ʼn polisievoertuig wat patrollie gedoen het toevallig daar verbygery het. Die man het die polisie voorgekeer en vertel wat gebeur het.

“Die polisie het ʼn volskaalse soektog van stapel gestuur. Toe die paartjie terugkom by die Audi, het hulle ʼn geklop in die kattebak gehoor. Hulle het die kattebak oopgemaak en die eienaar van die voertuig daarbinne gevind.”

Die polisie kon daarin slaag om die verdagte aan te keer en in hegtenis te neem. Hy is deur die paartjie en die man wat gekaap is uitgeken.

Die verdagte moet binnekort in die Middelburg-landdroshof verskyn.

Die vuurwapen waarop beslag gelê is. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

B-man ·

Hy kan bly wees hy wou nie ‘n doodskis kaap en daarmee wegry nie, dan was hy in groot moeilikheid. Gelukkig net ‘n kar, ‘n paar verkeersreëls, vuurwapen en die rig daarvan op onskuldiges. Sal maklik kan loskom.

Annie ·

Al het die kaper wat gedoen hy gaan nog steeds daarmee wegkom.

Willem Grobler ·

Vuurwapen gerig, sneller getrek?? So, dis nou onwettige besit van ‘n vuurwapen, gewapende roof, menseroof en poging tot moord! Sal interessant wees om te sien wat met hom gebeur. In die ou dae kon hy die doodstraf gekry het vir hierdie rits misdade…

Chris Ws ·

Willem jys reg.Maar kom ons kyk as hy aangekla word wat gaan die klagte wees.En as die saak voorkom is sy kans om ‘n opgeskorte vonnis te kry baie goed as die regter ‘n volksvreemde is.

Riaan ·

Foto wys die patroon is nog in die loop (rondte in die kamer). Nie baie veilig nie.

Well done ·

Well done aan hierdie paartjie wat gestop het en sjoe daai vuurwapen “geface” het, dit kon nie maklik wees en die Polisie op patrollie, regtig mense soos julle gee mens hoop!

Marianne ·

Uitstekend….baie dankie aan almal betrokke en kan Vader se hand hierin duidelik sien!!!dankbaar dat Hy almal gespaar het…..seënwense

tamboti ·

Die korrekte klagstaat sou wees:
– 3 x poging tot moord (die eienaar van voertuig in kattebak en die paartjie op wie hy die vuurwapen gerig het en sneller getrek het)
– Roof met verswarende omstandighede (omdat hy die eienaar nie gelos het nie maar hom in kattebak dwing.
– Ontvoering (met die doel om te moor)
– Motordiefstel
en vermoedelik
– bestuur sonder rybewys
– ongeluk veroorsaak en weghardloop (en al die verkeersoortredinge)
– en laastens maar nie die minste: BESIT van onwettige (gesteelde) vuurwapen en ammunisie.
Aag en ek is seker daarvan hy het vorige sake hangend teen hom of kan verbind word met ander sake d.m.v. vingerafdrukke – selfs dalk moord!
Natuurlik sal die amptelike klagte dalk net rig van vuurwapen, en onwettige besit wees.
Die ondersoek beampte sal selfs argumenteer die roof was eintlik onsuksesvol en hy dink nie hy kan nou daarvoor aangekla word nie! (tong in die kies)

Karma ·

@tamboti – ek weet darem nie van die klagte(s) van poging tot moord nie. Moet jy nie iemand fisies seermaak voor dit poging tot moord is nie. Miskien die rig van ‘n vuurwapen, meer ja – of poging tot aanranding met die doel om ernstig te beseer. Maar, aan die ander kant, hy hét ‘n skoot afgevuur, die wapen het net vasgesteek, so ….. dalk is dit tog poging tot moord, ek weet ook nie.

Wat ek wel weet, is dat as die oortreder swart is, gaan hy tien teen een skotvry stap. Dis nou nadat hy onmiddellik borgtog gekry het van R100.00 en die saak keer-op-keer uitgestel is nadat òf hy óf sy regsverteenwoordiger siek was, of hy sy regsverteerwoordiger die trekpas gegee het of die dossier skielik weggeraak het of onvoldoende bewyse deur die staat ingedien was ,,,,,, of …… of ….. of ………………….

Hetti de Beer ·

Al vang hulle hom ook op heterdaad, maak geen verskil nie, Hy het die reg om te roof en te moor, as dit nie so was nie, hoekom gebeur daar niks en hoekom kom die doodstraf nie terug nie?

Doodskis saak vs man in kattebak ·

Sal bitter graag wil sien wat word van die saak??? As jy iemand in doodskis sit om skrik te maak omdat hy gesteel het en gedreig het om jou eiendom af te brand en jou familie te vermoor, staan jy tereg op poging tot moord. Die bordtjies verhang nou, skelm roof druk eienaar in kattebak jaag weg en en en ….. wonder of daar groot media dekking vir die saak gaan wees????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.