Man in hof na 9-jarige in kaping sterf

hof-hamer

Argieffoto.

Die 39-jarige man wat in hegtenis geneem is nadat ʼn negejarige meisie dood is toe sy Maandag tydens ʼn kaping in Shallcross naby Chatsworth in KwaZulu-Natal geskiet is, sal na verwagting vandag in die hof op aanklagte van moord en kaping verskyn.

Maroela Media het vroeër berig Sadia Sukhraj is dood nadat drie kapers Maandagoggend op haar pa se voertuig toegeslaan, haar pa uit die voertuig geboender en met haar steeds in die voertuig weggejaag het. Die kapers het ʼn kort ent verder met ʼn vragmotor gebots en het daarna te voet probeer vlug.

Een verdagte is in hegtenis geneem, nog een het op die toneel gesterf en die derde verdagte kon daarin slaag om te ontsnap. Sadia is met ʼn koeëlwond in haar bolyf na ʼn hospitaal gehaas waar sy later dood is. Sy is gister begrawe.

Intussen het 20 verdagtes Dinsdag in die Chatsworth-landdroshof verskyn op aanklag van openbare geweld wat ook met dié voorval verband hou.

Brig. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, het gesê ongeveer 1 000 lede van die publiek, waarvan talle dronk en buite beheer was, het Maandagaand op die Chatsworth-polisiestasie toegesak. “Hulle het buitebande aan die brand gesteek, die pad versper en die polisiestasie met verskeie voorwerpe bestook terwyl hulle probeer het om die hekke oop te forseer. Die groep het geëis dat die polisie die verdagte wat in hegtenis geneem is aan hulle oorhandig sodat hulle deur middel van boendoegeregtigheid met hom kan afreken,” het Naicker gesê.

“Die polisie moes noodgedwonge van minimum geweld gebruik maak om die groep uitmekaar te jaag aangesien hulle ʼn bedreiging vir polisiebeamptes en die res van die gemeenskap ingehou het. Altesaam 20 mense is in hegtenis geneem.”

Volgens Naicker is 18 van die verdagtes Dinsdag op borgtog van R1 000 elk vrygelaat en een van die verdagtes op borgtog van R500. Die oorblywende verdagte is nie aangekla nie. Hulle sal op 4 Julie weer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Moeg ·

Mense is moeg vir geweld en swak diens en swak polisiering. Hul moet egter nie afbreek as hul gereg in eie hande wil neem nie.

ne ·

As hulle kwaad word moet alles verder geplunder word? Hier is geen wet en orde in die land nie. Die mense het nie gewerk (en belasting betaal) nie, so hulle kan maar net plunder! Wonder waarvan gaan hulle leef as die regering nie meer toelaes kan uitbetaal nie. Want op die oomblik gebruik hulle die toelaes om te drink en word daar nie aan die kinders voorsien nie. Gaan kyk maar hoe maak die bottelstore geld op ‘grant’ dag uitbetalings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.