Man in hof ná bankkliënt R1,2 miljoen verloor

krediet-kredietkaarte-geld-bank

Foto: Stevepb/Pixabay.com

ʼn 33-jarige man het Maandag in die Wynberg-landdroshof in Kaapstad verskyn op aanklag dat hy ʼn bankkliënt uit meer as R1,2 miljoen bedrieg het.

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, het gesê die man het na bewering die bankstelsel gemanipuleer en nuwe aanlyn-bankdiensprofiele geskep vir ʼn rekening wat aan ʼn FNB-kliënt, van ’n plaaslike tak in Houtbaai, behoort. Die beskuldigde het ook na bewering bankkaarte op dié rekening gemagtig en bedrieglike transaksies na verskeie bankrekeninge toegelaat wat daartoe gelei het dat die kliënt meer as R1,2 miljoen verloor het.

Volgens Ramovha is ʼn forensiese ondersoek van stapel gestuur nadat die kliënt ʼn klagte ingedien het. Die Valke is in die ondersoek genader en die man is in hegtenis geneem terwyl hy aan diens was.

“Die beskuldigde is op borgtog van R5 000 onder streng voorwaardes vrygelaat en moet op 9 Februarie 2018 weer in die hof verskyn op aanklagte van bedrog, geldwassery en die oortreding van die Wet op Elektroniese Kommunikasie- en Transaksies,” het Ramovha gesê. Hy het gesê verdere inhegtenisnemings kan moontlik volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Daan Erasmus ·

Die misdaad is 1.2 miljoen. Die borgtog R5000. Dit maak nie sin nie. Die verdagte is weg voor jy mes kan sê. Wat het geword van Advokaat Barbie se man wat uit gelewer is.

Eish ·

Sien uit na opvolgberigewing. Is dit n bankamptenaar?
Hoe het die beskuldigde die kliënt se besonderhede verkry?

Ruby ·

Genade, as ek by die bank sake wil doen moet ek behoorlik amper bloed skenk om te bewys dis ek.

Miskien moet banke bank dieselfde voorsorg maatreëls EN strenger op hulle werknemers toepas!

Alida ·

En no 1 met sy 783 aanklagtes!!! Wanneer verskyn hy in die Hof.

Theresa ·

Kon mens nie ‘n landswye petisie laat onderteken om hierdie persoon wat aan soveel misdade skuldig is, te laat vonnis nie? Dis tog ‘n skande wat nie in woorde beskryf kan word dat so iemand ‘n land se leier is en dit toegelaat word nie???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.