Man in hof ná driedubbele gesinsmoord

(Argieffoto: Unsplash)

’n Man het Donderdagoggend vir die eerste keer in die plaaslike landdroshof verskyn nadat die liggame van sy ouers en jonger broer vroeër vandeesweek met skietwonde in hul huis in Bloemfontein in die Vrystaat aangetref is.

Phaladi Shuping, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Vrystaat, het aan Maroela Media gesê Jacobus Visser (42) staan tereg op drie aanklagte van moord en een aanklag van regsverydeling.

Dít volg nadat die liggame van sy ouers, Johan and Magriet, en sy jonger broer, Louis, Dinsdagoggend in ’n huis in Raymond Mhlabastraat, Navalsig, in die stad aangetref is.

Maroela Media het vroeër berig die liggame van Johan (68), Magriet (65) en Louis (40) is elkeen met skietwonde aan die kop in die slaapkamers van die huis aangetref.

’n Vuurwapen, wat vermoedelik tydens die skietery gebruik is, is bo-op Magriet se liggaam gevind.

Volgens Shuping sal Visser weer op 10 September in die hof verskyn wanneer hy na verwagting sal aansoek doen om borgtog.

Visser bly tot dán in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Thea ·

Hoe op aarde kan mens dit aan jou eie vlees en bloed doen. Ek kan dit eenvoudig nie verstaan nie.

Androclus ·

Mense is gevoelloos soos wat hy dit aan sy eie bloed gedoen het,wat te sê nog vir jou vreemdeling.

My Mening ·

Ek sal ook nooit in my hele lewe kan verstaan hoe jy so iets aan jou geliefdes kan doen nie. Daar moet iets lelik skort by jou as jy iemand vermoor of enige vorm van leed aandoen!!

Niklaas ·

Dis nie ongewoon in hierdie tye , om ouers te vermoor nie. Daar is gereeld media berigte hieroor .Dink aan Henry van Breda , die Dominee in Harrismith se aangenome seun , die dogter wat ouers doodskiet met die hulp van haar minnaar en haar broer , ens. En ek glo nie dis elke keer weens dwelms nie. Hoe versteurd moet daardie skuldige moordenaars nie wees nie ?

Pieter J ·

Ek dink daar skort iets baie ernstig met mense wat sulke dade pleeg. Diesulkes behoort lewenslank sonder die opsie van parool opgelě te word want hulle sal ń bedreiging vir die samelewing bly tot hulle sterfdag toe.

Excalibur ·

Die mensdom en sy gyte is skaamteloos en griewelik bevlek van jaloesie, gierigheid, haat, nydigheid, vergelding, selfsug, vervloeking, skinder,skande en so gaan die lysie aan van ons historiese herkoms met die Bybel se Kaine & Abel moordsaak. Opponerend staan 1 Kor 13 soos n paal bo hoogwater wat spreek van Liefde, Hoop, Geloof … dit waarna ons almal in gees streef en op ons kniee bid…maar dit seevier slegs in gees en solank die kerkdiens in sitting is…want as die kerk/biddiens oor is en ons die deure oopswaai neem die vlees met sy wellus oor en beskinder ons deur oog, gehoor & tong wat verterende seermaak vure van verwoesting aansteek tot die volgende bid/kerkdiens wanneer die gees introspeksie neem … sal die mensdom ooit weer die paradys ongevlek kan betree…?

Fae Fubar ·

Julle moes die vorige berigte gelees het om die volle prentjie te kry. Die mense was blykbaar sonder inkomste en heenkome. Hulle het in familie se huis gewoon, maar moes op die dag an hulle dood die huis ontruim. Die huis is verkoop. Die gesin het uit radeloosheid ‘n selfmoord pakt gesluit, maar die moeder kon haarself nie sover kry om deur te druk nie. Die seun het na bewering ingestem om die dade te pleeg, nadat ‘n ander broer nie deel van die pakt wou wees nie. Daar sal nog baie sulke gevalle opduik in die komende maande. Mense het alles verloor. Sommige van hulle wat op die ashoop van radeloosheid beland, glo dat net die dood ontvlugting kan bring. Dis tragies.

Jack ·

Almal raak nou skietmal en binnekort word vuurwapens ongeldig verklaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.