Man in hof ná Hankey-plaasaanval

Argieffoto

ʼn 32-jarige verdagte het Dinsdag in die Hankey-landdroshof in die Oos-Kaap verskyn in verband met ʼn aanval op ʼn plaas in dié omgewing waartydens ʼn ma van drie kinders geskiet en glo verkrag is.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagte het net vlugtig in die hof verskyn voordat die saak tot 16 April uitgestel is vir verdere ondersoek. Die verdagte sal in aanhouding bly tot dan.

Die beskuldigde word aangekla van vier aanklagte van poging tot moord, verkragting, die onwettige besit van ʼn vuurwapen, roof met verswarende omstandighede, diefstal en onsedelike aanranding. Weens die seksuele aanklagte teen hom, kan sy naam nie bekendgemaak word voordat hy nie in die hof gepleit het nie.

Maroela Media het vroeër berig die verdagte is Woensdag in die Nketlana-nedersetting, net ʼn paar kilometer van die Lesotho-grens, in hegtenis geneem. Dit kom nadat ʼn 44-jarige vrou en haar drie kinders op 23 Maart by ʼn huis op hul plaas aangeval is. ʼn Aanvaller het toegang tot die huis verkry deur verskeie skote deur ʼn glasdeur te skiet en die vrou is in haar rug gewond.

Die aanvaller het die vrou gedwing om, met die koeël steeds in haar rug, saam met hom na ʼn kitsbank in Hankey te ry om geld te onttrek. Terwyl die aanvaller besig was om die geld te onttrek, kon die vrou daarin slaag om met haar voertuig weg te kom.

Van die goedere wat tydens die aanval gesteel is, is tydens die verdagte se inhegtenisneming teruggevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.