Man in hof na hy glo baba as wapen gebruik

Argieffoto

Argieffoto

Die man wat daarvan beskuldig word dat hy ʼn baba as ʼn wapen gebruik het om sy vriendin mee aan te val, het Dinsdag in die Pretoriase landdroshof verskyn.

Velekhaya Mgobhozi, woordvoerder van die Nasionale Vergaderingsgesag (NVG), het gesê die saak teen Alexander Forba is uitgestel vir verdere ondersoek. Forba, ʼn buitelander, sal in aanhouding bly tot sy volgende hofverskyning op 24 Februarie.

Ao. Wanda Olivier, polisiewoordvoerder, het vroeër gesê die voorval het Sondag in die vroeë oggendure in die weste van Pretoria plaasgevind. “Die vrou het aan die polisie gesê sy en die man het ʼn argument in hul woonstel gehad,” het Olivier gesê. “Die man het haar gevra of hy die kind se pa was, en haar toe met die baba geslaan.”

Die paartjie het daarna na ʼn vulstasie op die hoek van Kerk- en Rebeccastraat geloop. Die polisie het Best Care-ambulansdienste ontbied en hulle was omstreeks 03:00 op die toneel. Xander Loubser, woordvoerder van Best Care, het gesê die baba was in ʼn handdoek toegedraai en was besig om in haar eie braaksel te verdrink toe paramedici by die toneel opgedaag het.

Die ma en kind is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem waar die babatjie aan haar beserings beswyk het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.