Man in hof ná hy glo polisieman vermoor

Argieffoto

ʼn 47-jarige man het Donderdag in die Mmabatho-landdroshof in Noordwes verskyn nadat hy glo verlede week ʼn polisieman doodgeskiet het. Hy staan tereg op ʼn aanklag van moord.

Kapt. Tlangelani Rikhotso, woordvoerder van die Valke, sê die man, Joseph Mathe, is Dinsdag in die Montshioa Stadt-nedersetting digby Mahikeng deur die polisie se ondersoekspan in hegtenis geneem. Die span het bestaan uit speurders, die plaaslike misdaadrekordsentrum, die polisie se honde-eenheid en die polisie se blitspatrollie.

Konst. Thato Makhoana (26) se liggaam is verlede week langs die pad buitekant Mahikeng gevind. Hy het verskeie skietwonde opgedoen. Rikhotso sê sy amper uitgebrande voertuig is later in die Majemantsho-nedersetting daar naby gevind.

Die konstabel was nie aan diens ten tyde van die voorval nie.

Die Valke het ʼn ondersoek van stapel gestuur wat tot die inhegtenisneming van Mathe gelei het.

Mathe sal na verwagting weer op 11 Augustus in die hof verskyn waar hy regsverteenwoordiging sal kan bekom.

Die ondersoek duur voort vir nog moontlike inhegtenisnemings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Androclus ·

Hoekom nog regsverteenwoordiger as hy skuldig is,dis net weer om die saak uit te rek,mors van tyd en hofrolle vol maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.