Man in hof ná hy glo R53 m. van Tshwane-metro steel

Foto: Argief

Ivo Gunter Wegrostek (62) is op borgtog van R100 000 en streng voorwaardes vrygelaat in verband met beweerde bedrog, geldwassery en korrupsie van R53 miljoen.

Wegrostek het Donderdag vlugtig in die Pretoria-landdroshof verskyn nadat hy Woensdag in hegtenis geneem is, het brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, gesê.

Sy borgtogvoorwaardes sluit onder meer in dat hy nie die land mag verlaat nie. Wegrostek moet hom daagliks by die Douglasdale-polisiestasie aanmeld en toestemming van die ondersoekbeampte kry indien hy Gauteng wil verlaat. Hy moes ook sy paspoorte vir Suid-Afrika en Oostenryk inhandig.

Wegrostek moet op 26 Februarie in die gespesialiseerde handelshof in Pretoria verskyn.

Hy word daarvan beskuldig dat hy R53 miljoen gesteel het wat vir die nasionale fonds vir munisipale werkers in die Tshwane-metroraad bedoel was.

Mulaudzi het vroeër gesê Wegrostek is tydens ʼn spesiale operasie van die Valke se nasionale skoonoudit-taakspan in hegtenis geneem nadat hy glo 30 Augustus die geld uit die metro se bankrekening gesteel het.

Die span het ʼn deursoek-en-beslagleggingoperasie by die verdagte se onderneming en huis uitgevoer waartydens daar op rekenaars, selfone en debietkaarte beslag gelê is.

Volgens Mulaudzi dui die bewysstukke aan dat die verdagte deel is van ʼn groot misdaadsindikaat wat oor provinsiale en internasionale grense heen werksaam is.

“Deur verdere ondersoek is daar bevind dat die gesteelde geld na bewering deur Wegrostek se maatskappy, SASGold, na verskeie ondernemings en familielede se bankrekeninge, plaaslik en in die buiteland, gewas is.”

Die Valke kon daarin slaag om bates te bevries en het op van die geld met betrekking tot die R53 miljoen beslag gelê.

Mulaudzi het gesê hulle verwag dat nog mense in hegtenis geneem sal word namate die ondersoek vorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johanna Botha ·

In die hof ….nou appeleer hy seker vir die volgende 20 jaar , word n minister en doen dan skielik n siekte op …..SLUIT TOE !

TweeSent ·

No ways, snaaks hoe die mense nooit gevang word wanneer dit R10,000 of R100,000 is nie, EERS as dit miljoene is. Al die Metro makkers het seker ook geld ontvang, maar dit sal nie genoem word nie, nee kom ons noem die 1 oorsee se ou & sy familie. Ek glo nie vir 1 oomblik dat geen RSA metro mense nie hierby betrokke is nie, natuurlik is hulle, dis hoe ons “roll” in SA

Christa ·

Hy gaan nie Febr hier wees nie gaan uit land uit vlug met AL die geld

Merrie Perd ·

Kalm bly mense, laat die gereg hulle werk doen voordat ons oordeel. Dalk n Gupta “leak”?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.