Man in hof ná hy ma glo wreedaardig vermoor

hof-hamer

Argieffoto

ʼn 28-jarige man het Woensdag in die Coligny-landdroshof in Noordwes verskyn nadat hy glo sy bejaarde ma in die Tlhabologang-nedersetting by Coligny vermoor het.

Kol. Adéle Myburgh, woordvoerder van die polisie, sê Butinyana Joseph Khuabo is Maandag in hegtenis geneem.

“Volgens die inligting tot ons beskikking het hy en sy ma, Atalina Maria Khuabo (73), glo ʼn woordewisseling gehad voordat hy haar wreedaardig aangerand het.”

Die ma was in die slaapkamer toe haar seun haar na bewering twee keer met ʼn byl in die nek gekap het.

ʼn Familielid wat net ná die voorval by die huis opgedaag het, het die polisie en nooddienste ontbied. Die ma is op die toneel dood verklaar.

Khuabo sal in aanhouding bly tot sy volgende hofverskyning op 21 September.

In ʼn afsonderlike voorval in Jouberton in Noordwes is ʼn 31-jarige ma Dinsdag vasgetrek nadat sy glo haar twee dogters, onderskeidelik drie jaar en 21 maande oud, vermoor het.

Ná die kinders vanjaar op 5 Augustus oorlede is, is hul liggame vir ʼn nadoodse ondersoek gestuur, wat bevestig het dat hulle vergiftig is. Die ma is daarna in hegtenis geneem in verband met hul dood.

“Die ma het aanvanklik beweer dat sy die kinders na ʼn plaaslike hospitaal geneem het nadat hulle siek geword het. Albei is met aankoms by die hospitaal dood verklaar.”

Weens die nadoodse ondersoek se uitslag is die aanvanklike geregtelike doodsondersoek verander na twee aanklagte van moord.

“Die ma is ondervra en sy het erken dat sy haar kinders vergiftig het.”

Sy sal na verwagting Donderdag vir die eerste keer in die landdroshof in Klerksdorp op twee aanklagte van moord verskyn.

Lt.genl. Sello Kwena, die provinsiale polisiekommissaris in Noordwes, het ʼn beroep op mense gedoen om vroue en kinders te beskerm. Hy het ook gesê dat vreedsame oplossings vir konflik bereik moet word, eerder as om tot geweld oor te gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anoniem ·

Ek dink hulle moet die gebeure van miljoene jare gelede in die Wieg van die Mensdom indringend ondersoek. Daar het vir seker ‘n foutjie of 2 ingesluip.

ES ·

Nog iemand wat sy ma vermoor… hoe siek is die mense wat in die land woon?

Pieter J ·

Die mense in Coligny kry mos huise as vergoeding vir sogenaamde onregte wat teen hulle gepleeg is nou dink hulle seker hulle is bo die wet verhewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.