Man in hof ná kind in kruisvuur beland

Nahemiah Claassen (Foto: Facebook)

Die man wat in hegtenis geneem is kort nadat die tienjarige Nahemiah Claassen Maandag in die kruisvuur gedurende ʼn skietery tussen bendelede op die Kaapse Vlakte beland en later dood is, het Woensdag vlugtig in ʼn hof verskyn.

Die 22-jarige verdagte het in die landdroshof in Wynberg op aanklag van moord verskyn.

Dít volg kort nadat ʼn tweede verdagte homself Dinsdag aan die polisie oorgegee het in verband met Nahemiah se dood.

Die saak is nou tot 11 September uitgestel wanneer albei verdagtes saam in die hof sal verskyn.

Maroela Media het vroeër berig bendelede op die Kaapse Vlakte het in Parkwood by Grassy Park op mekaar begin skiet en Nahemiah in die proses raakgeskiet. Die kind is Dinsdagmiddag in ʼn hospitaal in Kaapstad dood.

Kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, het vroeër gesê ʼn skietgeveg het die oggend omstreeks 11:00 tussen lede van een bende en ʼn bendelid van ʼn ander bende in Parkers Walk, Parkwood, uitgebreek. Nahemiah het glo buitekant sy huis gespeel toe ʼn dwaalkoeël hom vermoedelik in die kop getref het.

Hy is in ʼn ernstige toestand na ʼn hospitaal in Kaapstad gehaas waar hy verdere mediese behandeling ontvang het. Hy was aan lewensondersteunende apparaat gekoppel wat Dinsdagmiddag afgeskakel is.

Nahemiah was ʼn graad 6-leerder aan Parkwood Primary.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Persheks Adri ·

My innige simpatie aan die familie en vriende in die moeilike tyd!!! Dis so hartseer en onnodig dat kinders ly agv dit. Arme kind het gespeel… My hart is stukkend as ek die berigte lees!

Hoekom sorteer groot hoed nie die storie uit nie of is hulle te bang vir die bendes? Nee genade die polisie moet ook by kom en gou ook, want so kan dit nie aangaan nie!

LANA is ELANè ·

Waarom? Want die SAPD het jare gelede hulle mag op misdaad oorhandig aan bendes en ander skelms!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.