Man in hof ná moord op polisiebeampte

Fhumulani Simali. Foto: Verskaf

Fhumulani Simali (30) het Dinsdag in die hof verskyn in verband met die moord op ʼn polisiebeampte wat Sondagmiddag in Louis Trichardt vermoor is toe hy ʼn gewelddadige verdagte in hegtenis probeer neem het.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder van Limpopo, het gesê Simali het in die dorp se landdroshof verskyn op aanklagte van moord, diefstal uit ʼn voertuig en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

“Die saak is tot 1 November uitgestel vir verdere ondersoek en sy formele borgtogaansoek. Hy bly in aanhouding,” het Ngoepe gesê.

Ngoepe het die beampte wat gesterf het as ao. Andrew Nthabeleni Mudau (59) van die Makhado-speurtak geïdentifiseer.

Maroela Media het vroeër berig Mudau het Sondag inligting opgevolg oor ʼn verdagte [Simali] wat gesoek word in verband met aanklagte van diefstal uit ʼn voertuig en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Polisiebeamptes het Simali by ʼn huis in die dorp opgespoor en daarheen gegaan om hom in hegtenis te neem.

“Die verdagte het gewelddadig geraak toe die polisie hom in hegtenis wou neem en het die adjudant-offisier met ʼn skerp voorwerp gesteek. Die beampte is na ʼn hospitaal gehaas waar hy aan sy wonde beswyk het,” het Ngoepe gesê. Die verdagte kon deur ander polisiebeamptes in die huis vasgekeer word en is in hegtenis geneem.

Ao. Andrew Nthabeleni Mudau. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Leahim ·

Die verdagte lyk of daar fout kan wees ,is Simali n buitelandse van en weereens jammer oor die AO hy lyk na n goeie man sterkte aan sy familie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.