Man in hof na moord op SA dokter in Kanada

Dr. Walter Reynolds.

Die man wat aangekla word van die moord op ʼn Suid-Afrikaanse dokter in Kanada, het tydens sy hofverskyning aangevoer hy is siek en kan nie besonderhede van die aanval onthou nie.

Deng Mabiour (54) word aangekla van die moord op dr. Walter Reynolds (45). Reynolds (45) is Maandag by die Village Mall-kliniek in Red Deer in Alberta deur ʼn man met ʼn kapmes en ʼn hamer aangeval. Reynolds is na ʼn hospitaal geneem waar hy aan sy beserings beswyk het.

Twee mans in die wagkamer het ʼn deur toegedruk om te keer dat die aanvaller vlug. Die polisie was kort hierna op die toneel en die verdagte is in hegtenis geneem.

CBC News berig Mabiour het telefonies vanuit sy tronksel in Red Deer met die hof gepraat. Hy is tans in isolasie weens die Covid-19-pandemie.

“Ek kan nie als in detail onthou nie. Wanneer ek gesond is, sal ek alles onthou,” het Mabiour gesê. Volgens die berig het Mabiour gesê hy benodig ʼn dokter waarna hy begin lag het.

Die regter wou by Mabiour weet of hy verstaan waarvan hy aangekla word, waarna hy weereens gesê het hy is siek en dat hy nie verstaan nie. Die saak is tot 9 September uitgestel. Volgens die Edmonton Journal het Mabiour nie ʼn kriminele rekord nie.

Reynolds en sy gesin.

Reynolds laat sy vrou, Anelia, en hul twee dogters, nege en 11 jaar oud, agter. Hy het kort nadat hy sy studie aan die Universiteit van Pretoria en sy prakties voltooi het na Kanada verhuis.

Dr. Lize Jones, ook ʼn Suid-Afrikaner en Reynolds se vennoot en vriend, het vanuit Red Deer aan Maroela Media gesê die gemeenskap is geruk deur die voorval. Sy het gesê die verdagte was ʼn gereelde pasiënt van Reynolds.

Reynolds was een van vier broers. Sy een broer, Edwin, is in 2007 dood nadat hy tydens ʼn rooftog by die Zwartkops-renbaan in Pretoria geskiet is. Reynolds se ma en twee ander broers woon in Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Barend ·

Suid-Sudan. Sy gemeenskap in Kanada kan nie glo dat hy so iets sou kon doen nie. Medelye aan die dokter se vrou en kinders

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.