Man in hof ná moord op vyf

Argieffoto.

ʼn 26-jarige man wat vir die moord op vyf mense in Kaapstad gesoek is, het Maandag in die Kaapstadse landdroshof verskyn.

Die man, ʼn inwoner van die Joe Slovo-nedersetting in Milnerton, is Vrydag in hegtenis geneem en staan saam met ses ander mans tereg vir die moord op vyf mense, onder wie twee vroue.

Brig. Novela Potelwa, woordvoerder van die polisie, sê die verdagtes het op 8 Oktober omstreeks 22:00 by ʼn huis in Sekowastraat in die nedersetting opgedaag waarna ʼn skietery uitgebreek het.

“Een van die gewapende verdagtes het ʼn vrou gewond, terwyl nog een beseer is.”

Later dieselfde aand het die gewapende mans drie mans en ʼn vrou in ʼn ander huis in Dadastraat doodgeskiet. Dié huis is nie ver van die eerste een nie.

Potelwa sê nóg inhegtenisnemings word verwag namate die ondersoek vorder.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, sê die verdagte wat vasgetrek is, staan tereg op vyf aanklagte van moord.

“Sy saak is tot 26 Oktober uitgestel wanneer hy om borgtog aansoek kan doen. Die staat gaan die aansoek teenstaan,” sê Ntabazalila.

Enigiemand met inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei, kan die ondersoekbeampte AO Kussel by 074 964 3197 bel of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
JM

En hierdie moordenaars maak aanspraak op hul grondwetlike reg: op lewe! Hoe arrogant!