Man in hof ná ‘stroper’ se skietdood

(Argief)

ʼn Werknemer op ʼn plaas buite Lephalale (Ellisras) in Limpopo is Dinsdag op borgtog van R5 000 vrygelaat nadat hy glo ʼn beweerde stroper doodgeskiet het.

Barend Steyn (32) is in hegtenis geneem vir die moord op ʼn 30-jarige man wat Sondag saam met twee ander mans glo onwettig in die omgewing gejag het.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Noordwes, het gesê lede van natuurbewaring het die mans betrap. ʼn Gemsbok, stukke gedroogde vleis en jagtoerusting is by hulle gevind.

Nadat hulle aangekeer is, het die mans egter in verskillende rigtings laat spat en in die bosse verdwyn.

ʼn Soektog is van stapel gestuur tot die beamptes skote gehoor en hulle na die toneel gehaas het waar Steyn die vermeende stroper glo doodgeskiet het.

Die polisie het beslag gelê op sy gelisensieerde vuurwapen en hy is in hegtenis geneem.

Mojapelo het gesê die omstandighede wat tot die skietery gelei het, vorm deel van die polisieondersoek.

In ʼn afsonderlike voorval is drie mans – een van hulle ʼn polisiebeampte – Sondag in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem nadat hulle die vorige dag glo ook onwettig op ʼn plaas in die omgewing van Ixopo gejag het.

Kapt. Simphiwe Mhlongo, woordvoerder van die Valke, het gesê die eenheid het ʼn wenk gekry oor ʼn verdagte voertuig wat op die private grond rondgery het en vermoedelik met onwettige bedrywighede besig was.

Die Valke is na die plaas, waar hulle die bakkie opgemerk het. Dit het stadig gery met net spreiligte aangeskakel.

“Die voertuig is voorgekeer en deursoek. Polisielede het ʼn dooie bosbok, ʼn .22-geweer, ammunisie en ʼn 9 mm-pistool gevind,” het Mhlongo gesê.

Die vuurwapen waarop die polisie in die omgewing van Ixopo beslag gelê het. (Foto: SA Polisie)

Drie mans is in hegtenis geneem, naamlik ʼn polisiebeampte verbonde aan die BBP-beskermingseenheid in Pietermaritzburg, ʼn amptenaar van die Msunduzi-munisipaliteit, asook ʼn motorwerktuigkundige van die omgewing.

Hulle word aangekla van onwettige jag, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en oortreding van die Wet op Rampbestuur wat tydens die afsonderingstydperk geld.

Die drie verskyn na verwagting later vandag in die Ixopo-landdroshof.

Die landbougemeenskap pleit al ʼn geruime tyd by die minister van polisie en die departemente van landbou en samewerkende regering en tradisionele sake dat plaaswagte as ʼn noodsaaklike diens onder toesig van die polisie ingesluit moet word. Hul versoeke het tot dusver op dowe ore geval.

Hulle sê terwyl die regering voete sleep, is die boerderygemeenskap aan sy eie lot oorgelaat en ly boere groot verliese weens ʼn drastiese toename in produk- en veediefstal, asook die onwettige slagting van vee en plundery op plase.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Werner ·

Mense gaan al hoe meer begin skiet uit radeloosheid uit veediefstal tel op onwetigge jag eskaleer plaas aanvalle eskaleer moet ons nou die heeltyd die ander wang draai ek glo nie

007 ·

Dis net omdat hy wit is. Ek weet daar moet n moord klag ondersoek word. Maar wie gaan sy regskoste betaal wat maklik R500 000 gaan beloop. As hy gelukkig is.

Michael 1 ·

Wie se hy het nie geskiet oor sy lewe in gevaar was nie,niemand weet geen getuies nie.

Anel ·

Ek het van die begin af gesê die arme man is wit. Die skelms kan maar roof en jiy wilg en vee skiet, maar o wee, moet tog net nie aan hom raak nie. So gaan ons boere oral vervolg word.

Scalla ·

Die stropers het in verskillende rigtings ontvlug na hul aangekeer was en dus skuldig is, en is agterna gesit deur die werker wat seker een van sy pligte is, was hy nie dalk aangeval en het hy nie uit selfverdediging geskiet nie met sy gelisinseerde wapen nie? Hoop die waarheid seevier.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.