Man in hof ná Potch-aanval

Adriaan en Lilly Smit. Foto: Verskaf.

Die 28-jarige man wat Vrydagoggend in Potchefstroom in hegtenis geneem is ná die aanval op Adriaan (69) en Lilly (67) Smit, verskyn na verwagting Maandag in die plaaslike landdroshof. Adriaan is tydens die aanval vermoedelik met ʼn ysterstaaf doodgeslaan.

Maroela Media het vroeër berig Lilly (67) is in ʼn kritieke toestand per helikopter na Milpark-hospitaal in Johannesburg geneem nadat sy ook met ʼn ysterstaaf aangeval is.

Joe van Dyk, Adriaan en Lilly Smit se skoonseun, het Saterdag aan Maroela Media vertel wat gebeur het.

“Die aanval was net ná 04:00. Daar is ʼn kamera in die straat wat wys hoe een verdagte oor die muur spring,” het Van Dyk vertel.

Die verdagte het glo toe aan die bakkie gepeuter. “My skoonpa het gaan ondersoek instel. Die verdagte het ʼn yster wat op die tafel by die bakkie onder die afdak gelê het, opgetel en hom aangerand. Hy het hom toe in die huis ingesleep. My skoonma het betrokke geraak en hy het haar ook daarmee aangerand,” het Van Dyk vertel.

Die ysterstaaf waarmee hy haar aangerand het, het gebreek en die verdagte het nóg ʼn ysterstaaf gaan haal en haar verder aangerand.

“Die verdagte het gevlug met die bakkie se sleutels en toe weggejaag met die bakkie.”

Volgens Van Dyk het die buurman wat gehoor het hoe die honde blaf, oor die muur gespring en gaan ondersoek instel. “Toe hy die bloed sien, het hy teruggegaan na sy huis en alarm gemaak.”

Trudi Botha, eienaar van Electro Security, het aan Maroela Media gesê die veiligheidsmaatskappy het teen 05:30 ʼn noodoproep van ʼn buurman van die egpaar ontvang.

“Ons reaksievoertuig het saam met die polisie by die toneel opgedaag. Dit was ʼn gru-toneel wat met bloed besmeer was,” het Botha gesê.

Botha het inligting oor die gesteelde voertuig op veiligheidnetwerke versprei en is kort daarna deur Suzette Oosthuizen, wyk 2 se koördineerder van die AfriForum Buurtwag, ingelig dat buurtwaglede ʼn soortgelyke voertuig in hul gebied agternasit.

“Ons is voor 06:00 ingelig dat ons lede hulp benodig, want hulle is besig om ʼn Isuzu-bakkie agterna te sit. Die bestuurder van die bakkie het die voertuig gerol. Dit het op sy wiele tot stilstand gekom en hy het weggejaag,” het Oosthuizen aan Maroela Media gesê.

Die bestuurder van die bakkie het daarna teen ʼn vragmotor gebots en steeds verder gejaag, met die buurtwag kort op sy hakke. Kort daarna het hy weer die bakkie gerol, waarna die bestuurder te voet in die omliggende landerye gevlug het.

“Buurtwaglede het hom daar aangekeer, waarna die man deur CB Security in hegtenis geneem is.”

Volgens sers. Kelebogile Moleko, provinsiale polisiewoordvoerder van Noordwes, ondersoek die polisie ʼn saak van moord en poging tot moord. Die polisie is op soek na twee vermeende medepligtiges.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Willie ·

Ek wil my uitlaat nie, maar dis beslis rasse haat! Jonges wat te lui is om te werk, hulle het die wil net he sindroom.

Veronica ·

Ek kan die “haat” tussen die lyne terwyl ek lees aanvoel . . . om iemand met n ysterstaaf dood te slaan is boos!!!
Sou graag vanoggend in daardie HOF wou wees!!!
Hierdie misdadigers verdien die doodstraf . . . PUNT

Eenoog ·

MET ‘N YSTERSTAAF DOODGESLAAN ?? Mense, hoe kan die liberales en die kruipers onder julle nog die DOODSKIS geval so uitlig en veroordeel as julle niks se oor die oumense wat met ysterstawe doodgeslaan word nie?? Hierdie moordenaars word nooit ordentlik gestraf nie nie en loop weer in die strate rond maar nee doodskis ouens wat nie ‘n hand gelig het teen die man nie sit vir 16 jaar in die tronk .. wat ‘n INJUSTICE en eenogigheid het in SA posgevat net om steeds te probeer deel van die REENBOOGNASIE wees . shame . .julle gaan ook wakkerword . al is dit te laat. Vra wat het Alan Paton se vrou gese .. when they have learnt to love use, we have learnt to hate them . en dit van’ n BAIE LIBERALE tannie ..

snoefie ·

wat help die kamera as die nie gemonitor word nie? was dit gemonitor kon hulp oogedaag het voordat die aanranding begin het

Liesl Van Dyk ·

Dit was die bure oorkant se kamera en kon net op die hoek van die huis afneem snoefie

NS ·

Asof die familie nie genoeg hartseer al gehad het die afgelope 2 jaar nie. Sterkte Tannie Lily

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.