Man in hof ná skietery by ongevalle

Sopi James Mankge (Foto: SAPD)

Die man van Limpopo wat na bewering vandeesweek sy vrou en seun in die ongevalle-afdeling van ʼn hospitaal geskiet het, het Dinsdag in die Nebo-landdroshof in dié provinsie verskyn.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, sê Sopi James Mankge (51) word op twee aanklagte van poging tot moord en die rig van ’n vuurwapen aangekla.

Dit nadat sy vrou en seun Maandag in die vroeë oggendure in die St. Rita’s-hospitaal in Glen Gowie, etlike kilometer van Steelpoort, geskiet is. Albei sterk steeds in dié hospitaal aan. Sy vrou is in ’n kritieke toestand, sê Mojapelo.

Maroela Media het vroeër berig Mankge en die 25-jarige seun is die betrokke oggend in die hospitaal opgeneem nadat hulle beserings tydens ʼn bakleiery die vorige aand by hul huis naby die nedersetting Jane Furse opgedoen het.

Luidens inligting het die man sy vrou aangerand waarop die seun wou ingryp. Die man het toe op sy seun afgestorm waarna die seun ter verdediging die pa met ʼn skerp voorwerp gesteek het.

Die seun het ook beserings in die onderonsie opgedoen en albei is afsonderlik na die hospitaal geneem vir mediese behandeling.

Daar gekom het ʼn woordewisseling weer tussen die gesinslede opgevlam en Mankge het na bewering sy drup verwyder, na sy voertuig gegaan en teruggegaan ongevalle toe waar hy sy vrou en seun geskiet het, sê Mojapelo.

Mankge het homself later aan die polisie oorgegee.

Volgens Mojapelo is die verdagte kort na sy inhegtenisneming teruggeneem hospitaal toe vir mediese behandeling, maar is intussen weer ontslaan.

Hy bly in aanhouding en sal weer op 5 Februarie in die hof verskyn waar hy na verwagting aansoek om borgtog sal doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.