Man in hof ná ‘vuuraanval’ op sy vrou

Tracy Samuels. Foto: Instagram

Craig Samuels (45) het Vrydag in die hof in Roodepoort verskyn nadat hy glo op Oukersdag ʼn vlambare vloeistof oor sy vrou, Tracy (39), uitgegooi en dit aan die brand gesteek het.

Maroela Media het vroeër berig ʼn suiwer vorm van asetoon wat gebruik word om oppervlaktes mee skoon te maak is ten aanskoue van die egpaar se 11-jarige seun oor haar uitgegiet nadat sy ʼn rusie met haar man glo oor ʼn WhatsApp-gesprek gehad het.

Samuels is na ʼn staatshospitaal gehaas waar daar nie ʼn brandsorgeenheid was nie.

Die Hero Burn-stigting, ʼn niewinsgewende organisasie wat ondersteuning bied en omsien na brandslagoffers, het van die voorval te hore gekom en gereël om haar na die brandsorgeenheid van die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto oor te plaas. Haar toestand was kritiek en sy moes aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel word.

Samuels is ná die aanval in hegtenis geneem en sou in die landdroshof in Roodepoort verskyn het, maar die saak is van die rol geskrap weens te min bewyse.

“Die staatsaanklaer het daarna opdrag gegee dat die ondersoekbeampte ʼn verklaring by Samuels afneem. Die ondersoekbeampte het ook verklarings van ooggetuies gekry, waarna die dossier na die aanklaer gestuur is vir beslissing,” het kapt. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder van Gauteng, Vrydag aan Maroela Media gesê.

Samuels is Donderdag in Roodepoort in hegtenis geneem.

Die Hero Burn-stigting het nadat die saak geskrap is ʼn prokureur van die regsfirma Wentzel en Vennote se dienste ingewin om te help met Samuels se herinhegtenisneming. Die firma gaan die staat bystaan om Samuels se borgtog teen te staan.

Aanvanklik is ʼn saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer ondersoek, maar dit is intussen na ʼn klag van poging tot moord verander. Samuels se saak is Vrydag tot Maandag uitgestel vir borgtogdoeleindes. Hy bly in aanhouding.

Volgens Annerie du Plooy, direkteur van die Hero Burn-stigting, hoop hulle nie die man word borgtog toegestaan nie, aangesien Samuels vir haar lewe vrees.

Samuels het tweedegraadse brandwonde aan haar hele bolyf, kop, gesig en arms opgedoen.

“Sy en haar seun is steeds baie getraumatiseerd. Sy ontvang nog wondsorgbehandeling en daar lê nog ʼn lang pad van herstel vir haar voor – fisiek en emosioneel. Dit is ook nog te vroeg om vas te stel hoeveel en watter soort littekens sy opgedoen het,” het Du Plooy bygevoeg.

Du Plooy en Tracy se familie het ʼn beroep op die publiek en die ANC Vroueliga gedoen om na die hof op te ruk om teen Samuels se borgtog te betoog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jacpo ·

darem maar n lekker wipplankryery voor haar aanvaller uiteindelik aangekeer is. Maar nou ja, haar naam en haar foto bewys sy het die “verkeerde ras” vir beter behandeling deur ons regstelsel.
As jy wit is in Suid-Afrika, pas jouself BAIE goed op, kyk oor jou skouer, wees “street wise” ens ens, want ons regstelsel gaan jou nie help nie.

Wonder ·

Aan Annerie van Hero Burn baie dankie vir jou onbaatsugtige diens aan brand slagoffers reg oor Suid Afrika. Jy is pragtigste mens met die grootste hart. Mense Annerie – self n brandslag offer- werk baie hard vir brandslagoffers. Sy is n Hero en mag meer mense jou goeie werk sien en help.

Bets ·

Annerie jy is inderdaad n hero, jy het die nodige ondervinding eerstehands ervaar en nou is jy toegerus om andere te help. Sien, GOD gebruik jou nou vir nood, jou pyn en lyding het nie ongesiens verby gegaan, dankie my Vader vir mense soos Annerie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.