Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê Vuyani Sifunda het vlugtig in die hof verskyn voordat die saak tot 7 November uitgestel is. Sifunda, wat tereg staan op drie aanklagte van moord en twee van roof met verswarende omstandighede, sal na verwagting tydens sy volgende verskyning om borgtog aansoek doen.
Maroela Media het vroeër berig Sifunda is verlede week in hegtenis geneem toe hy in die Paterson-landdroshof verskyn het in verband met ʼn saak van huisbraak. Hy word verdink van die moorde op Ken Alexander (76) en Elaine Allwright (78).
Die egpaar is einde September wreed in hul huis in Schoenmakerskop aangeval. Alexander is tydens die aanval doodgeslaan. Allwright is erg aangerand tydens die aanval en in ’n kritieke toestand in die hospitaal opgeneem waar sy ʼn paar dae later dood is.
Volgens Naidu word die verdagte ook aangekla van ʼn moord wat op 23 September op die terrein van die Forest Hill-begraafplaas in Schoenmakerskop plaasgevind het. Tyrone Plaatjies (49) is met ʼn hamer doodgeslaan terwyl hy en ʼn vriend in ʼn woonwa gelê en slaap het en deur twee mans oorval is. Die aanvallers het met R50, ʼn selfoon en Plaatjies se voertuig op die vlug geslaan. Plaatjies het op pad na ʼn hospitaal aan sy beserings beswyk.
Naidu het vroeër gesê die polisie verwag om binnekort nog inhegtenisnemings te maak.
Bly julle is terug (vir kommentaar!)