Man in hof oor 27 sakke dagga

Die sakke vol dagga waarop daar Woensdag beslag gelê is. (Foto: SAPD)

’n Man (50) het Vrydag in die landdroshof in Queenstown in die Oos-Kaap verskyn nadat hy vroeër vandeesweek in besit van 27 sakke vol dagga met ’n straatwaarde van sowat R500 000 betrap is.

Brig. Tembinkosi Kinana, woordvoerder van die polisie, het in ’n verklaring gesê polisiebeamptes het Woensdag inligting ontvang oor twee verdagte voertuie naby een van die winkelsentrums in die dorp.

Volgens Kinana het polisiebeamptes die bestuurder van een van die voertuie genader waarna albei voertuie deursoek is. Die polisie het beslag gelê op die sakke dagga wat reeds op die twee voertuie gelaai was. Een van die bestuurders is op die plek in hegtenis geneem. Die ander bestuurder kon egter daarin slaag om inhegtenisneming te ontduik.

Die bestuurder staan nou tereg op die besit van dagga.

Dié inhegtenisneming is die tweede grootste in die provinsie oor die afgelope week nadat 103 sakke dagga vroeër vandeesweek deur Bizana-polisie onderskep is. Die sakke was vanaf Durban onderweg na Kaapstad.

Volgens Kinana is drie verdagtes toe in hegtenis geneem. Die verdagtes het reeds in die landdroshof in Bizana verskyn en die saak is tot 4 Junie uitgestel. Die verdagtes bly in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kobus2 ·

Aitsa!! Die polisie het nou weer genoeg rookgoedies en tsho-tsho geld om hulle (baie) ledige uurtjies mee te verwyl!

marius ·

Dagga kan gerook , gedrink , gepruim , gesnuif , gekweek gealles word solank dit vir persoonlike gebruik is .Dit kan in die openbaar ook gerook word want dit is nie tabak nie . Die konstitionele hof het dit beslis . Waarom word zol en hoed nie oor en oor daaroor gevra nie ???

Werner ·

Dagga is goedkoper as siggarette dit sal die mark betree dankie tannie zuma

capie ·

Nou wat moet ons nou rook. Binnekort vat hulle ons klapperhaar matrasse ook weg

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.