Man in hof oor bomdreigemente

Godfrey Lebeya, hoof van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) (Foto: Chantall Presence/ANA)

ʼn Man wat in hegtenis geneem is in verband met ʼn toestel wat soos ʼn bom lyk wat vroeër vandeesmaand by die Taqwa-moskee in Vereeniging, Gauteng, geplant is, sal Donderdag na verwagting aansoek doen om borgtog.

“Hy word aangehou in verband met bomdreigement-aktiwiteit en is in Gauteng in hegtenis geneem,” het Godfrey Lebeya, hoof van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), Woensdag aan die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, gesê.

“Hy sal [Donderdag] aansoek doen om borgtog. Die aansoek sal teengestaan word. Die hof sal die uitslag bepaal,” het Lebeya gesê.

Hy het aan LP’s gesê die man het vroeër in Verulam, Durban, gewoon, waar een man dood en twee beseer is, toe mans wat met messe gewapen was, ʼn moskee aangeval het. Twee dae ná die aanval is ʼn springstoftoestel by die moskee gevind. Lebeya wou nie bevestig of die verdagte verbind word met die bomdreigement in Verulam en verskeie ander in Durban nie.

Hy het vroeër gesê die Valke het tot dusver 10 van die voorvalle met mekaar verbind waar bomme in Mei, Junie en Julie in Durban opgespoor is.

ʼn Spesiale taakspan van intelligensiebeamptes, analiste en ondersoekbeamptes is aangestel kort ná die bomme by verskeie winkels in en rondom Durban opgespoor is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.