ʼn Man het Donderdag in die Polokwane-landdroshof verskyn nadat hy op sosiale media beweer het die ongeluk waarin Collins Chabane, minister van staatsdiens en administrasie, dood is, was ʼn sluipmoord.
SABC berig Thembani Chabane is op waarskuwing vrygelaat, maar aanklagte van crimen injuria, naamskending en uitlokking word steeds ondersoek. Thembani sal op 7 Mei weer in die hof verskyn.
Collins Chabane se familie het die polisie genader nadat hulle van Thembani se bewerings op Facebook gehoor het. Die polisie het met ʼn ondersoek begin en nadat Thembani ondervra is, is hy in hegtenis geneem. Hulle kon nie bevestig of Thembani familie van die oorlede Collins Chabane is nie.
Thembani het glo op Facebook beweer dat die vragmotorbestuurder wat betrokke was in die botsing waarin Chabane gesterf het, gehuur is om die minister te vermoor. Hy het verder beweer dat daar al verskeie pogings was om Chabane om die lewe te bring.
Amukelani Rikhotso, die vragmotorbestuurder, is intussen Dinsdag op borgtog van R5 000 vrygelaat. Hy moet weer op 15 Mei in die hof verskyn.
Die ongeluk het in die vroeë oggendure van Sondag 15 Maart op die N1-hoofweg naby Polokwane plaasgevind. Rikhotso het glo ʼn U-draai voor Chabane se motor gemaak. Chabane, sy motorbestuurder en ʼn lyfwag is in die ongeluk dood.
Een van daardie wilde beweerings wat gereeld deur die mense gemaak word en hul later hul self glo ,dat dit waar is.later te ontken en dat hul verkeert aangehaal is.