Man in hof oor dood van oudspeurder se pa

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Bill Oxford/Unsplash)

ʼn Man wat daarvan beskuldig word dat hy ʼn oud-Valke-lid se pa in 2019 vermoor het, het vandeesweek in die hof verskyn waar hy teregstaan op onder meer aanklagte van moord en sameswering om moord te pleeg.

Die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) wou nie destyds bespiegel oor die motief vir die moord nie, maar sê nou dat die slagoffer se seun, ʼn oudspeurder, eintlik die teiken van misdadigers was.

Zinzi Hani, die Valke se woordvoerder, sê Abongile Nqodi (35) het Dinsdag in die Atlantis-landdroshof in Kaapstad verskyn vir die moord van Nici Heerschap (74). Nqodi is ʼn gevonniste gevangene wat in ʼn onverwante misdryf in die Pollsmoor-gevangenis aangehou is.

Nici se seun, Nico, was ʼn speurder-adjudantoffisier van die Valke ten tyde van die moord. Hy het ná die voorval by die Valke bedank.

Nici is in Julie 2019 voor sy woning, wat hy met sy seun gedeel het, in Melkbosstrand doodgeskiet. Hy was besig om uit die oprit van die huis te ry om sy kleinkind skool toe te neem toe hy geskiet is. Hy was aan die stuur van ʼn Toyota Land Cruiser wat normaalweg deur Nico bestuur is.

“Kringtelevisieopnames het later gewys dat twee gewapende mans naby die toneel in ʼn swart Mercedes-Benz afgelaai is en die oorledene te voet genader en doodgeskiet het,” sê Hani.

Volgens die Valke was die moordpoging eintlik op Nico gerig. Die motief hou glo verband met ʼn ondersoek waarmee hy besig was ten tyde van sy pa se moord.

Verdere ondersoeke na die voorval het tot die inhegtenisneming van Nqodi gelei. Dié saak is tot Vrydag uitgestel waar hy moontlik ʼn pleit- en vonnisooreenkoms op die genoemde aanklagte gaan aangaan.

Hani meen dat nog inhegtenisnemings op hande is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Althes ·

Sulke oortreders moet die maksimum vonnis kry. Dis hartseer en onaanvaarbaar wanneer polisiebeamptes en hul familie geteiken word omdat hul misdaad bestry om vuilgoed vanaf die straat te kry.
Sterkte aan die polisiebeampte en sy familie.

Casper ·

Dit is hartseer dat ‘n onskuldige persoon nou dood is omdat sy seun nog eerbaar was en glo my daar is min van hulle in piesangland oor.

Lillian ·

Hy het net sy werk gedoen … ondersoeke … siek wêreld waarin ons leef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.