ʼn 21-jarige man het Vrydag in die landdroshof in Lebowakgomo, Limpopo, verskyn nadat hy sy ma se beendere uit haar graf opgegrawe het.
Bonolo Lesetja se saak is tot 26 April uitgestel. Hy bly in aanhouding, het lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, gesê.
Maroela Media het vroeër berig die polisie in Lebowakgomo het die man in hegtenis geneem nadat hy die graf by Dithabaneng geskend het. Lesetja is glo in Desember 2017 na die plaaslike begraafplaas en het begin om sy ma, wat al in 2001 begrawe is, se graf op te grawe totdat hy uiteindelik in Januarie vanjaar op die beendere afgekom het en dit saam met hom huis toe geneem het.
Hy was vier jaar oud toe sy in 2001 oorlede en begrawe is.
Lede van die gemeenskap het volgens Ngoepe op 5 Maart gesien hoe die man in die nedersetting rondbeweeg met ʼn menslike kopbeen en onmiddellik die polisie in kennis gestel. “Die polisie het vinnig gereageer en het die volledige menslike geraamte in die verdagte se huis aangetref en hom in hegtenis geneem,” het Ngoepe gesê.
Die voorlopige polisieondersoek het ook aangedui dat daar baie beesbeendere in dieselfde huis aangetref is en dat die verdagte soms sy ma se kopbeen in ʼn sak dra as hy winkel of bank toe gaan omdat hy glo dit sal hom beskerm teen enige gevaar.
Ngoepe het gesê daar kan nog nie bevestig word of die man ʼn sangoma is nie en dit sal deel vorm van die polisie se ondersoek.
Die polisie se ondersoek duur voort.
Dit is tragies. n Seuntjie van 4 jaar het berading nodig gehad.