Man in hof oor moord op Kaapstad-ma

Rosemary Theron

Rosemary Theron

Kyle Maspero (18), wat van die moord op die Kaapse vermaaklikheidskunstenaar, Rosemary Theron, verdink word, het Donderdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof verskyn.

Staatsaanklaer Susan Galloway het aan die hof gesê Maspero wag steeds op ʼn bed in die Valkenberg Psigiatriese Hospitaal. Volgens haar is Maspero nommer 37 op die waglys.

Galloway het regterpresident John Hlophe gevra om die saak tot 5 Maart uit te stel. Hlophe het Maspero gewaarsku om by sy borgvoorwaardes te hou.

Die hof het verlede jaar beveel dat Maspero vir sielkundige waarneming gestuur moet word, nadat sy regsverteenwoordiger, William da Grass, gesê het sy kliënt sukkel om vir hom instruksies te gee. “Hy kan nie die materiële aspekte van die misdryf onthou nie en dit is as gevolg van die langdurige gebruik van dwelms,” het Da Grass destyds gesê.

Da Grass het aangevoer Maspero het vir ʼn verlengde tydperk tik gebruik. “Sy brein is beskadig as gevolg van die dwelmgebruik. Ek dink dit is die eenvoudigste manier om dit te stel,” het hy gesê.

Die aanklagte teen Maspero se medebeskuldigde, Godfrey Scheepers (20), is verlede jaar teruggetrek.

Theron se dogter, Phoenix Racing Cloud (19), het ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan. Sy het erken dat sy haar kêrel [Maspero] gehelp het om haar ma met ʼn tou te verwurg op 7 Maart 2013. Sy is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis.

Klik hier vir voriger berigte oor die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.