Man in hof oor poging tot moord op vakbond-takleier

Die Brits-landdroshof. Foto: Landi Malan

ʼn 38-jarige man, wat beskuldig word van poging tot moord op ʼn takvoorsitter van die mynwerkersvakbond Amcu, het Vrydag in die hof verskyn.

Samkelo Mkhutshwa het in die Brits-landdroshof in Noordwes verskyn om aansoek te doen om borgtog. Die staat het egter versoek dat die saak tot volgende week uitgestel word vir verdere ondersoek.

Die staat voer aan Mkhutshwa het Malibongwe Mdazo, takvoorsitter van Amcu, in Mooinooi naby Brits geskiet in ʼn poging om hom te vermoor.

Mkhutshwa is op 9 Desember in Lusikisiki in die Oos-Kaap in hegtenis geneem in verband met ʼn onverwante saak van poging tot moord wat in Wonderkop, ook in Noordwes, in September plaasgevind het. Hy is uit aanhouding vrygelaat nadat die Rustenburg-landdroshof nie sy saak op die rol geplaas het, 48 uur ná hy in hegtenis geneem is nie.

Hy is egter dieselfde dag in hegtenis geneem in verband met die poging tot moord op Mdazo.

Mdazo is op 22 Julie verskeie kere geskiet op ʼn sportgrond in Mooinooi, tydens ʼn vermoedelike stryd tussen Amcu en die mededingende vakbond, die National Union of Mineworkers (NUM).

Amcu het NUM as die dominante vakbond onttroon ná ʼn gewelddadige loonstaking by Lonmin in Augustus, 2012. Polisiebeamptes het 34 mynwerkers op 16 Augustus 2012 doodgeskiet. Tien persone is tydens die vorige week dood, insluitend twee Lonmin-veiligheidsbeamptes en twee polisiebeamptes.

Mkhutshwa is saam met Nkosinathi Mantashe aangekla, wat in November vrygelaat is op borgtog van R10 000. Hy is in September in hegtenis geneem.

Amcu-lede het buite die hof gesê nog ʼn man is in die Oos-Kaap in hegtenis geneem in verband met die poging tot moord op Mdazo en hy sal na verwagting in dié provinsie in die hof verskyn waarna sy saak na Noordwes oorgeplaas sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

johan Brits ·

Ek wens hulle wil diee dorp se naam verander. My groor oupa Hendrik sal nie van al die goed daar gehou het nie hy was ‘n liewe GOFS vesende mens. So asb verder die naam!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.