Man in hof oor ontvoering, moord

Argieffoto

ʼn 40-jarige man sal na verwagting Dinsdag in die Bafokeng-landdroshof in Tlhabane in Noordwes verskyn op aanklag van die ontvoering en moord op ʼn 15-jarige meisie.

“Die verdagte is laas op 24 Desember 2019 gesien toe hy ʼn plaaslike kroeg in Chaneng buite Phokeng verlaat het. Die slagoffer en haar 18-jarige vriending het hom vergesel,” het brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, gesê. “Hy het hulle glo na sy huis geneem waar hy albei verkrag het.”

ʼn Saak van verkragting is by die polisie aanhangig gemaak. “Die verdagte was voortvlugtig totdat hy weer die 15-jarige slagoffer op 31 Desember 2019 by dieselfde kroeg teëgekom het. Hulle is saam daar weg en het glo tussen 00:00 en 01:00 op Nuwejaarsdag in die bosse verdwyn. Die slagoffer is daarna nie weer gesien nie.”

Die meisie se ouers het op 3 Januarie ʼn saak van ontvoering by die polisie aanhangig gemaak.

“Die verdagte was in daardie stadium reeds in aanhouding, nadat hy, danksy inligting wat die gemeenskap verskaf het, op 1 Januarie in hegtenis geneem is in verband met die aanvanklike saak van verkragting,” het Mokgwabone bygevoeg. “Die man het op 3 Januarie in die hof verskyn op twee aanklagte van verkragting.”

Tydens verdere ondersoek is die 15-jarige meisie se ontbinde liggaam Sondag omstreeks 11:00 by Chaneng opgespoor. “Die verdagte het steeds die twee aanklagte van verkragting teen hom. Hy sal Dinsdag in die hof verskyn op aanklag van ontvoering en moord.”

Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris, het die voorval ten sterkste veroordeel. Hy het die gemeenskap bedank dat hulle inligting aan die polisie verskaf het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Alida ·

Wat soek n 15 jarige meisiekind by n kroeg…. Waar was haar ouers? Hoe laat hul dit toe. . Hoekom gaan sy terug na die selfde plek wat bygedra het tot die eerste verkragting..

ES ·

15 jaar oud? Sy is nog ‘n kind… en sy hang by ‘n kroeg uit?

Ek is verbaas dat die gemeenskap nie reg in hul eie hande geneem het nie.

Misky ·

Ag nee wat, 15 jaar oud en hang in `n kroeg uit daai ure van die oggend en gaan terug na die eerste voorval na dieselfde kroeg ….. dan soek jy vir moeilikheid en gaan dit kry soos in die geval

Niklaas ·

Moeilik om te begryp hoe jong dame , op 24 Desember verkrag , n kroeg saam met dieselfde aanvaller op 31 Desember verlaat ! Kon sy hom dan nie onthou nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.