Man in hof oor student se liggaam in tas

Nosicelo Mtebeni se liggaam is in ʼn tas gevind. (Foto: Fort Hare Alumni Chapter/Facebook)

Die 25-jarige man wat verlede week in hegtenis geneem is nadat sy vriendin se liggaam in ʼn tas langs die pad gevind is, het Maandag in die landdroshof op Oos-Londen verskyn op aanklag van moord en regsverydeling.

Maroela Media het vroeër berig dat Nosicelo Mtebeni (23), ʼn regstudent aan die Fort Hare-universiteit (UFH) se Oos-Londen-kampus, se liggaam in ʼn tas in Quigney deur ʼn pendelaar aangetref is. By die tas was ʼn swart sak met ander liggaamsdele.

Volgens Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Oos-Kaap, het ʼn ooggetuie glo gesien hoe Alutha Pasile Donderdag omstreeks 05:00 met ʼn pers tas en ʼn swart sak sy huis verlaat.

Dié beskrywing het ooreengestem met die sakke waarin Mtebeni se oorskot gevind is.

“Die polisie het Pasile kort daarna in hegtenis geneem,” sê Ngcakani.

Volgens die NVG was Mtebeni in ʼn verhouding met Pasile betrokke en die twee het saam gewoon.

Pasile het nie om borgtog aansoek gedoen nie. “Sy saak is tot 28 September uitgestel terwyl die polisie verder ondersoek instel,” sê Ngcakani.

Woede oor moord

Intussen het die minister van hoër onderwys en opleiding, Blade Nzimande, sy skok en woede oor die “barbaarse” moord op Mtebeni te kenne gegee.

Nzimande sê maatskaplike mobilisering is nodig om die vlaag geslagsgeweld te stuit.

“Suid-Afrika kan nie voortgaan om ʼn toevlugsoord vir misdadigers te wees wat die maatskaplike vesel van ons samelewing uitmekaar wil skeur nie.”

Nzimande het ʼn span kundiges na die Fort Hare-universiteit gestuur om personeel en studente te ondersteun.

Prof. Sibongile Muthwa, voorsitter van die Universiteite van Suid-Afrika-forum (Usaf), het ook die grusame moord op Mtebeni ten sterkste veroordeel.

“Die hele universiteitsektor is geskok oor hierdie tragiese voorval. Dit is onbegryplik dat die sinnelose geweld teenoor vroue voortduur terwyl ons Vrouemaand vier. Die ongegronde aanslag op die vroue van Suid-Afrika moet deur elke burger ernstig opgeneem word.

“Usaf sal alles in sy vermoë doen om ʼn veilige en ondersteunende omgewing aan alle vroue te bied.”

Roudag vir slagoffer

UFH het intussen aangekondig dat alle akademiese aktiwiteite en ander bedrywighede Woensdag opgeskort word om die dood van Mtebeni te betreur en haar lewe te vier.

ʼn Gedenkdiens sal Woensdag gehou word en die geleentheid sal regstreeks uitgesaai word.

Die universiteit se departement van musiek sal Donderdag ʼn oorspronklike Vrouemaand-liedjie uitvoer wat aan Mtebeni opgedra word.

UFH het ook gevra dat Mtebeni saam met ander universiteit-alumni wat as merkwaardige vroueleiers beskou word – Gertrude Ntlabathi, Nolitha Fakude en Phyllis Ntantala – in ʼn kunswerk verskyn wat later vandeesweek onthul sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Anoniem ·

Dit is en bly vreeslik, dat so ‘n pragtige vrou so wreed tot haar einde moes kom. Sterkte aan haar familie en studente.

Chris dupreez ·

Onmenslik. Ek hoop hy sit in die tronk tot hy daar doodgaan

Tanniepetoors ·

Dis sulke wreedaards wat mens na middeleeuse martelings wil laat terugkeer as strawwe. Sy ledemate moet stuk vir stuk uitmekaar geskeur word terwyl hy nog by sy positiewe is.

Misky ·

Verbaas my elke keer om die een of ander minister se reaksie te sien of lees. Hulle is altyd “verbaas” oor wat gebeur het. Ek is nie meer nie en die tipe gedrag en optrede raak nou al gewoon en daar is nie einde aan hulle boosheid nie

Jaco ·

Dis nou ramaphosa se peace loving our people who just want land wat sulke goed aan mekaar doen. Wat dan nou van Black Lives Matter en human rights en ubuntu?

Skappie ·

Sjoe, hoe kan mens so iets doen. Sterkte aan haar gesin, en ook almal wat haar geken het.

Johanna ·

Moord moet met Doodstraf gestop word. Die straf moet die oortreding regverdig. Daardie meisie sal nooit weer leef nie….die moordenaar moet DOODSTRAF opgele word.
Dis al hoe dit in n mate beheer sal word.
Dit is n feit dat mans oor die algemeen geen respek het vir vroue se lewens nue.
Die regering faal vroue in Suid Afrika. Vroue het die reg om veilig te wees.

Pieter ·

Dis darem nou ‘n growwe stelling en ek neem aanstoot. Ek weet nie in watter kringe beweeg jy nie, maar die mense met wie ek omgaan het die mans die allergrootste respek vir vrouens. Dit is wel so dat sommige mans nie respek het nie, maar om te sê : dis ‘n feit dat mans oor die algemeen nie respek het vir vrouens se lewens nie”, is om die minste te sê lasterlik teenoor mans

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.