Man in hof oor vliegkaartjie-‘slenter’

Argieffoto (Pixabay)

ʼn 44-jarige man het Woensdag in die Strand-landdroshof in die Wes-Kaap verskyn in verband met ʼn beweerde vliegkaartjie-slenter waarin lugrederye glo R500 000 verloor het.

Chandra Kumar Yadav (44) is Dinsdag deur lede van die Valke se Wes-Kaapse eenheid vir ernstige handelsmisdaad in hegtenis geneem.

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, het gesê Yadav het na bewering die slenter oor ʼn tydperk van agt maande, van Desember 2016 tot September 2017, bedryf. Volgens Ramovha het die beskuldigde glo aan sy slagoffers vertel dat hy vliegkaartjies namens hulle teen ʼn afslagprys kon koop in ruil vir kontantbetaling.

Ramovha verduidelik Yadav het glo die inligting van gesteelde kredietkaarte gebruik om die kaartjies aan te koop, wat daartoe gelei het dat die betrokke lugredery altesaam ongeveer R500 000 verloor het. Sommige van die slagoffers se vliegkaartjies is ook gekanselleer voordat hulle die vlugte kon onderneem.

ʼn Span van die Valke het verlede maand as deel van hul ondersoek op Yadav se huis in Gordonsbaai toegeslaan waar hulle op elektroniese toerusting waaronder selfone, SIM-kaarte en rekenaars beslag gelê het.

Yadav staan tereg op aanklagte van bedrog, vervalsing, geldwassery en oortreding van die wet op elektroniese kommunikasie en transaksies. Die saak is tot 25 Oktober uitgestel en hy bly in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Daan Erasmus ·

Elke skelm dink hy gaan nooit gevang word nie. Of is dit omdat die meeste daarmee wegkom dat dit gebeur.

Eish ·

Deesdae kom meeste weg, so ek kan nie my uitspreek oor die huidige situasie nie, maar so 30 jaar plus gelede was hul val gierigheid. Hul het eenvoudig selfvertroue opgebou met elke sukses en hulself gehang op die einde.

Alida ·

Sluit die skelm toe. Ek kan steeds nie glo mense val vir sulke slenters nie.

Barnard ·

Dieselfde met ons en ons groep van 25 mense in Desember 2016 gebeur. Ons moes die dag voor ons Bali toe sou vlieg hoor ons “agent” het nooit iets betaal nie en al die bevestigings vervals. Ons heldeDesember vakansie verloor en hy’s met amper R500k weg. Saak aanhangig gemaak by Brooklyn polisiestasie en almal het verklarings afgele. Ons het die “agent” opgespoor waar hy wegkruip by sy ouers se huis in Rustenburg en dit ook aan polisie deurgegee. Tot vandag nog niks gebeur nie, polisie “ondersoek” nog die saak….

Posbus ·

Hou op goed vir GOEDKOPER probeer kry. Daar is deesdae genoeg ‘goedkoop vlugte’ wat jy legally kan bekom, so hou op score dan sal julle nie vir slenters gevang word nie. 90% mense wat vir slenters gevang word is mense wat ‘n vinnige geldjie wil maak of wat iets goedkopers wil bekom as wat dit werklik is. Doen bietjie navorsing voordat jy iemand net vertrou. Bly hy is gevang, klink na ‘n slinkse kalant.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.